Hervormde Kerk Premiermyn word onafhanklik

Maandag 22 Oktober 2012

VERKLARING VAN DIE NHKA PREMIERMYN GEMEENTE AS `N ONAFHANKLIKE GEMEENTE (ECCLESIA COMPLETA),VOORTAAN BEKEND AS DIE PREMIERMYN HERVORMDE KERK

Erkentlik teenoor God Drie-Enig het ons as lidmate vergader op 22 Oktober 2012. Gehoorsaam aan die Evangelie soos ons dit hoor, het ons besluit om voort te gaan op die bekende en Bybelgetroue teologiese en historiese pad van die NHKA. Ons sien nie meer ons weg oop om ons te onderwerp aan die opsig en teologiese leiding wat deel uitmaak van die administrasie en kerkgenootskap van die NHKA nie.


Hierdie gemeente sal voortaan funksioneer as `n onafhanklike gemeente in die kerk van Jesus Christus, voorlopig bekend as die Premiermyn Hervormde Kerk (op die perseel van die Diamant vereniging).
Ons neem hierdie besluit onder andere as gevolg van besluite wat geneem is op die 69ste Algemene Kerkvergadering (54/69) en die daaropvolgende Buitengewone Algemene Kerkvergadering (BAKV). Vermelde besluite neem nie die waarheid soos die Bybel dit vereis, ernstig op nie. Die besluite is ook halsoorkop geneem met ‘n nuwe vreemde teologiese onderbou; inteendeel, dit dui op `n welbewuste wegbeweeg van die NHKA se teologiese basis en ‘n veroordeling van haar oorsprong, bestaansreg en geskiedenis. Die nuwe “teologiese onderbou” herinner aan bevrydingsteologie.
Die NHKA het veral vanaf die 90-jare van die vorige eeu die Bybels-Reformatoriese teologie begin versaak. Aangevuur deur die drif om deel van die ekumeniese wêreld te word, en dit ten koste van ons Reformatoriese erfenis, is die Kerk se teologie vervlak. Hierdie wegbeweeg word direk toegeskryf aan die afwykende teologiese tendense ten opsigte van die Skrif, die Belydenis, asook die Reformatoriese liturgie van die Kerk. Hierdie afwykende tendense word in snelgroeiende maat waargeneem in die Kerk se teologiese arbeid, publikasies en elektroniese media, uitsprake van veral geleerde teoloë, en vergaderings.
Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (KommAKV), het ook oor `n tydperk van omtrent 23 maande nie geleentheid, tyd of die wil openbaar om die probleme direk met die gemeente op te neem of te bespreek nie, en het ons eerder gedreig of ignoreer. Verder is alle lidmate wat hulle met die Staat van Belydenis assosieer of vereenselwig het, beskou as dat dié lidmate hulself as buite die organisasie van die NHKA gestel het . Ons het as gemeente die Staat van Belydenis aanvaar. Die aandrang dat lidmate moet bedank, dui op die radikale optrede deur die Kommissie. Die Kommissie het met hulle verwerping van die Staat van Belydenis ook gewys dat terwyl hulle nie by magte is om die Kerkorde te handhaaf nie en dat hulle hulself mag toe-eien wat hulle nie het nie; slegs die AKV kan besluit oor ‘n belydenissaak.
Ons beskou ons optrede as ‘n wekroep tot die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika wat haar heilige roeping versaak. Ons bede is dat die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika tot inkeer sal kom, terug sal keer na die Bybel as Woord van God, en die Belydenis as die korrekte interpretasie daarvan. Ons bid om daardie dag, sodat ons weer met mekaar één in die geloof kan word. Tot daardie dag aanbreek, gaan ons in self-opgelegde geloofsballingskap. Vir tyd en wyl funksioneer ons as ‘n volledige, onafhanklike gemeente, waarvan die kerkraad as opsigliggaam dien. Die inhoud van die Kerkorde van die 69ste AKV word as vertrekpunt en breë riglyn aanvaar, met die klem op Ordereël 1.
Ons onderwerp ons met oorgawe aan die gesag van die Bybel as die Woord van God en verstaan die belydenisskrifte as geldige opsommings van die hoofmomente opgesluit in die Bybel.
Die vergadering van die gemeente Premiermyn versoek alle gemeentelede om hierdie besluit te steun. Lidmate wat nie met die besluit saamstem nie, is steeds welkom, maar word versoek om in te val by die oortuiging van die oortuigde meerderheid. Gesien in die lig van die feit dat die verskille met die NHKA juis gaan oor die bewaring en instandhouding van leer, liturgie en geskiedenis, word die amptelike vergaderings van Premiermyn versoek om met hierdie sake erns te maak.
Ons is ook van plan om met ander steedsHervormde gemeentes `n geloofsverbond/ verband te vestig sodat die leer en leiding van die gemeente nie net by een of `n paar lede gesetel is nie.
Die vergadering het verder besluit dat die huidige ampsdraers en funksionarisse, sonder onderbreking, in ons gemeente bly dien. Die predikant bedank as ampsdraer en lidmaat van die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika, maar bly aan as predikant en lidmaat van die Premiermyn Hervormde Kerk. Die amp van, ouderling, diaken en predikant, word immers naas die roeping in geloof, ook aan die roeping van die gemeente ontleen.
Die verantwoordelikhede ten opsigte van ons kerklike goedere word vanaf die gemeentevergadering oorgedra na die Diamantvereniging waarvan alle lidmate lede is. Soos reeds deur die Gemeentevergadering besluit, sluit die oordrag na die Diamantvereniging alle roerende en nie-roerende bates en goedere in. Dit dui ook op alle historiese goedere, en dokumente soos die doopregister, lidmaatregister, notuleboeke en finansiële boeke.
Ons veroordeel geen mens nie, maar roep alle gelowiges om optredes en denke te toets aan God se Woord. Mag God ons genadig wees en ons deur Sy Gees, tot gehoorsaamheid aan Hom alleen, bly besiel.

(Verklaring van die Komm AKV – 13/06/12: “Elkeen wat die Staat van Belydenis teken, stel hom-/haarself téénoor die Hervormde Kerk.” en “Vir sulke lidmate is daar slegs een eerbare weg: Bedank as lidmate en amps-draers van die Hervormde Kerk”).