Effektiewe Barmhartigheid

Damesbediening is ‘n integrale deel van gemeentewees. Vroue wat betrokke is by onafhanklike gemeentes van die steedsHervormers werk as Dorkas volgens ‘n outentiek Bybelse model van dienswerk.

Premiermyn Dorkas se fokus val op die liefdevolle bystand van bejaardes, siekes en mense in nood. Vrouens voorsien gekookte etes, lê besoeke af, versorg bejaardes, lees Bybel en verhale voor. Kleinfontein se Sorgsentrum word gereeld besoek. Vir die bejaardes hier, en in ons eie gemeente, brei ons in die ongenaakbare winter kniekombersies, handskoene en/of warm mussies. Met lentedag kuier ons met vrolike blomme en ‘n eetdingetjie gesellig saam en alles word altyd so waardeer.

Groot Damesfunksies met 300 vrouens word gehou, daar word met die versorging en ondersteuning van ons kinders in pleegsorg en in kinderhuise gehelp. Hiertoe dra ons nie net finansieël by nie, maar dra ons die kinders met ons eie hande, omgee en liefde. Saam-saam pak ons spyseniering aan en behartig ons ses-weekliks ‘n teetuin tydens Kunsuitstallings wat in die kerksaal gehou word.

Kersfees hou ons Kerssangdiens en sing saam met die hele gemeenskap Kersliedere by Kerslig onder die Groot Vy. Met nagmaal hou ons ‘n gemeente-ete en tydens Paasfees, ‘n Paasopvoering met lidmate van 4 - 90 jaar oud. Sop en sjerrie saam met ‘n gemeentelike Stomstreke-kompetisie is ‘n winter-wenner. Gismo’s (ons uitreikprojek) word die afgelope drie jaar in hospitale in en rondom Pretoria aan ALLE kinders uitgedeel. GISMO is die akroniem vir God Is Met Ons.


GISMO word deur dames in en buite die gemeente gebrei en verpak, saam met die boodskap dat God altyd met ons is. Positief, begeesterd en gefokus woeker vroue op grondvlak saam. So is ons ook in die gemeenskap van Cullinan betrokke. 


Verlede jaar het ons ‘n afskopkonsert by die gemeente aangebied met die ontstaan van ‘n eie gemeenskapsprojek, Cul-Care. (Cullinan Gee Om) Van ons eie mense is as vrywilligers by hierdie gemeenskapsprojek betrokke. Hier reik ons uit in die vorm van slagofferbemagtiging, nasorg vir substans-afhanklikes, trauma ondersteuning, senior burger sorg en perd-ondersteunde terapie. 


Ons bejaardes bly vir ons baie spesiaal. Ons geniet hul wysheid en vertellinge van vervloë dae. Baie van hulle kinders en dié se gesinne is oorsee en hul het soveel verhale wat nog gehoor moet word. Hierdie omgee en respek vir ons bejaardes dra ons oor aan die jong geslag en hul kinders. 
 

Verby is die tyd dat ons mense sal toelaat om ons skaam te maak vir ons voorouers, ons is trots op waar ons vandaan kom en sê deur diens dankie vir dit wat hulle ons geleer het. Veral sê ons dankie dat ons, danksy hulle, steeds die boodskap van hoop en die voorbeeld van geloofstoewyding aan ons eie kinders en kleinkinders kan oordra. 

Ons dien God in afhanklikheid en lewer diens in dankbaarheid. Ons kyk eerstens na ons eie mense, maar kyk nooit verby die nood van ‘n ander nie. 

Ook in ander onafhanklike gemeentes woeker vroue ongestoord voort. Onder die koeltebome in die lieflike clivia-tuin van die Hervormde Kerk, Meyerspark, word daar jaarliks ‘n funksie gehou ten bate van Bybelverspreiding. Hierdie jaar het die jongklomp die gaste vergas met ‘n volledige jazzorkes. Die heerlike Glühwein en smaaklike eetgoed het die jaarlikse gesellige funksie lieflik afgerond, veral met die aankondiging dat R9 000 vir Bybelverspreiding ingesamel is! 


Waar ons kan, reik ons uit en gee met blymoedigheid.
 

Dit doen ons uit dankbaarheid vir die goeie deel wat God vir ons afgemeet het. 
 

Yvette Otto Premiermyn
Hervormde Kerk, Cullinan
072 223 7522