Staat van belydenis

STAAT VAN BELYDENIS.

SO GLO ONS - ONS KAN NIE ANDERS NIE.

Ons onwrikbare geloof in God Drie-enig, ons vashou aan die Bybel as ons enigste kanon, ons aanvaarding van die Belydenisskrifte,  die Proponentsformule, dring ons daartoe om te staan by ons geloofsoortuigings.  Ons smeekbede is: Help ons, God.

Indien alle vorme van protes nie suksesvol was nie,  is dit nodig om te bely:

Ek distansieer myself en sonder myself af teen hierdie vreemde konsep en verstaan dit as ‘n vreemde leer.  Hierdie belydenis spreek elke lidmaat individueel aan. Elkeen moet self kies:Waar staan ek?

Dit is ons oortuiging dat ons nou by hierdie punt in die geskiedenis van die NHKA gekom het.

In al hierdie sake wat die eer van God, die verlossing van die mens en die beloftes van die ewige lewe aanraak en ten opsigte waarvan ons verplig is om die Here God te gehoorsaam, kan ons geen toegewing aan die (georganiseerde) meerderheid maak nie.  Buitendien moet in sake waar dit gaan om die eer van God, ons verlossing uit die sonde en die ewige lewe, elke gelowige opstaan en homself voor God verantwoord en niemand kan hierin agter 'n ander een wegkruip nie.

Saak 1

Die mens is beelddraer van God ten opsigte van ‘n verhouding met God,  ‘n opdrag van God en verantwoordelikheid teenoor God.  Die BAKV se besluit dat daar geen vreemde leer teenwoordig is in 54/69,  is nie korrek nie.  Die beeld van God is nie in die mens nie.  Ons bely die Godheid van Christus en ook sy menswording;  sy twee nature (ware mens,  ware God);  sy maagdelike geboorte; sy plaasvervangende en versoenende dood aan die kruis. In Christus is God,  nie in die mens nie. 

Ons verklaar daarom dat ons in ‘n staat van belydenis is en dat die AKV  ‘n vreemde teologiese konsep as waarheid aanvaar het deur te stem dat die beeld van God in die mens is.   Ons roep lidmate en ampsdraers van die NHKA daartoe op om te erken dat die mens volkome sondaar is en dat ons redding buite onsself in Jesus Christus is. 

Saak 2

Die BAKV se besluit om 54/69 te behou,  verloën die evangelie van Jesus Christus as die opgestane HERE.  Die NHKA het nog altyd vasgehou aan die evangelie van Jesus Christus wat ons verlos het uit die mag van sonde en dood.  Sedert 54/69 stel die Kerk dat daar geen ander evangelie is as “die evangelie van die deernis van God” nie.  

Ons verklaar daarom dat ons in ‘n staat van belydenis is en dat die AKV ‘n teologie  verkondig wat nie in lyn is met die Bybel en die belydenisskrifte nie.  Ons roep die AKV daartoe op om terug te keer tot die belydenis dat Jesus ons red van sonde en dood. 

Saak 3

Die sake wat nou as die kern van die Kerk aangedui word,  maak van die NHKA ‘n organisasie van diensbaarheid.  Hierdie organisasie se doelwitte is dan gemik op sosiale verandering en nie meer op evangelieverkondiging nie.  Dit lyk asof die kerk ‘n oppervlakkige teologie aanhang wat gryp na bemarkingstruuks om die Kerk te laat “oorleef en relevant te wees.”

Ons verklaar daarom dat ons glo die AKV slaan ‘n teologiese rigting in waar die heil van die mensdom gesoek word, nie in God nie, maar in die huidige sogenaamde sosiale geregtigheid.  Ons roep die AKV daartoe op om weer die vooruitsig van ‘n wederkoms en die volle rykdom van God se verlossende genade raak te sien.

Saak 4

Die sewende gebod,  asook die hele Bybel (vgl Sondag 41 van die Heidelbergse Kategismus) verstaan die verhouding tussen een man en een vrou as die ideale verhouding binne die wil van God.  Die Bybel veroordeel homoseksuele verhoudings .

Ons verklaar daarom dat ons in ‘n staat van belydenis is omdat die AKV ‘n teologie aanhang wat nie erns maak met die Bybel as die Woord van God nie. Ons roep die AKV daartoe op om terug te keer tot ‘n verstaan van die Tien Gebooie wat in lyn is met die Bybel en die Belydenisskrifte. 

Saak 5

Die benadering deur dosente en die predikante van die AKV wat gestem het ten gunste van ‘n interpretasie van die Belydenisskrifte,  weerspreek die proponentsformule en Ordinansie 1.1.2.    Die gedagte dat die geloofsbelydenisse en die belydenisskrifte eietyds geïnterpreteer moet word,  ontken die waarheidskarakter daarvan en is meer in lyn met die vrysinnigheid.

Ons roep die ampsdraers van die NHKA daartoe om te erken dat ons die belydenisskrifte onderteken juis omdat hierdie geskrifte in ooreenstemming is met die Woord van God. 

Saak 6 

Binne veral die Teologiese Opleiding het dit mode geword om die sogenaamde Q-bron en die Thomas-evangelie aan te haal.  Hierdie benadering is slegs moontlik indien die gesag van die Bybel nie aanvaar word nie en na teologiese antwoorde gesoek word buite die Bybel om.  Op grond van die Bybel bely ons die Godheid van Christus en ook sy menswording;  sy twee nature (ware mens, ware God);  sy maagdelike geboorte; sy plaasvervangende en versoenende dood aan die kruis; sy liggaamlike opstanding en sy hemelvaart.

Ons roep die AKV daartoe op om die Bybel as Woord van God te aanvaar en as die enigste gesagvolle bron vir prediking en norm vir teologiese navorsing vir die Kerk te erken.  Ons verklaar dat die Kerk in sy goedkeuring en aanvaarding van akademiese navorsingsresultate en skrywes in amptelike publikasies van die Kerk wat die teendeel wil verkondig, ‘n godslasterlike leer akkommodeer en selfs beloon.  Ons roep lidmate en ampsdraers van die NHKA daartoe op om te erken dat Jesus Christus waarlik God en mens is, uit ‘n maagd gebore is, aan die kruis gesterf het, uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het soos die Woord duidelik verkondig

Saak 7

Eksodus 20:16 "Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie”. Die negende Gebod vereis van ons om in alle gevalle die waarheid te koester en die leuen te verwerp, ongeag omstandighede en die prys wat betaal moet word.  Indien die Kerk die negende gebod oortree, het die Kerk homself begin sien as ‘n grootheid wat uitstyg bokant God en God se Gebod.

Ons verklaar daarom dat ons in ‘n staat van belydenis is en dat die AKV die oortreding van die negende gebod goedkeur en so die kern van die evangelie aantas.  Die Kerk moet erken dat die 68e AKV geen besluit oor politieke beleid geneem het nie.  Die AKV moet beide die aanvaarding van beskrywingspunt 54 van die 69e AKV, asook die opvolg besluit van die BAKV,  onvoorwaardelik herroep. 

Laai die Staat van Belydenis af