Nee beywer julle allereers vir die koningkryk van God en vir die Wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie ander dinge gee

Matteus 6:19-34.

Jesus kom hier en gee in die eerste drie perikope kort riglyne vir die lewe.  Dit gaan oor jou prioriteite.  In vers 19 tot 21 gaan dit daaroor dat jy moet besluit hoeveel tyd jy in jou lewe wil gebruik om aardse skatte bymekaar te maak en hoeveel tyd en energie jy gebruik om werklik aan God en die koninkryk van die Hemel te spandeer.  Want waar jou skat is sal jou hart wees.

Verse 22 en 23 gaan oor jou oë wat die vensters van jou siel is, as jou oë op God se lig gerig is sal jou hele lewe deur Hom en sy Woord verlig word, as ons as mense se oë egter op aardse dinge gerig is, is ons in die diepste duister van verlorenheid.

Laastens moet jy as gelowige besluit wie jy hoër ag in jou lewe, God of geld en aardse rykdom, wie gaan jy beter dien en wie gaan jy afskeep.

Dit bring egter ook vir ons as mense ‘n stuk bevryding.  As ons ‘n Hemelse skat bymekaar maak, en ons oë op God se lig vestig dat Hy ons hele lewe deurstraal en as ons God eerste stel in ons lewe, bokant ons aardse rykdom en besittings, dan hoef ons nie soos die goddelose mense ons te bekommer oor aardse dinge nie. 

Die probleme van wat ons sal eet en wat ons sal drink en wat ons sal aantrek word goed waaroor die ongelowiges hulle bekommer. 

Ons as gelowiges het ‘n hemelse Vader wat ons versorg.  As ons Sy wil doen en elke dag ons roeping op aarde vervul, elke dag ons dagtaak verrig, nie vir mense of vir rykdom nie maar tot eer van God, dan sal God ook vir elkeen van ons al hierdie ander dinge uit genade gee.