Gee ons vandag ons daaglikse brood

Matteus 6:5-15

Die Onse Vader word opgedeel in 6 bedes met ‘n aanhef en ‘n slot.  Die eerste drie bedes handel oor God se saak op aarde.  Die laaste drie bedes handel dan oor ons mense se geestelike en tydelike nood.  Die eerste drie bedes word tot God gerig (laat U), die laaste drie bedes gaan telkens oor “ons”.  Die vierde bede “Gee ons vandag ons daaglikse brood” verskil ook van Lukas 11:3 as Lukas die onse Vader neerskryf , skryf hy: “gee ons elke dag ons daaglikse brood.”

Die dissipels wat hierdie gebed geleer word, is mense wat elke dag op ander mense se vrygewigheid  moes staatmaak om te eet en te lewe.  Hulle het hul werk, familie en alles wat hulle besit het agter gelaat om Jesus te volg.  Hulle het dus werklik elke dag besef hoe afhanklik hulle van God is.  Lukas skryf sy evangelie waarskynlik ‘n hele ruk later toe die kerk al meer gevestig was en mense gewoonweg gewerk het.  Hy konsentreer dan verder die toekoms in terwyl Matteus se weergawe werklik ‘n gebed van mense is wat nie weet waar hulle kos vandag vandaan gaan kom nie. 

So ‘n gebed veronderstel ‘n sekere afhanklikheid van God.  Dit is ‘n gebed van mense wat besef dat hulle elke oomblik uit die genade van die Here lewe en dan in diep afhanklikheid vir God kom vra om hulle te versorg. Tog gaan hierdie gebed ook veel dieper en wyer as bloot gewone aardse brood om van te lewe.

Jesus wil dat ons bid vir ons daaglikse brood in afhanklikheid, maar Hy wil ook ons oë oplig na die toekoms van God en na Hom in die Hemel.  Daarom bid ons nie maar net vir ligaamlike versorging nie maar ook vir die Ewige brood, as ons vir die brood van more bid.  Gee ons vandag die Ewige Brood sodat ons ook elke dag in geloof kan oorleef en groei.