Drie-eenheid

Lofsang:   Psalm 84:1,3 (Totius) Wet
Lees:          2 Korintiërs 13:4-13; Filippense 2:5-11
Sing:          Gesang 448:1-4
Sing:          Ges 449:1,3
Teks:          2 Korintiërs 13:13 – Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.
 
Gemeente van die Here Jesus Christus,
Die God van die Bybel, die God in wie ons glo, is 'n Drie-enige Wese. Hy is God die Vader, Hy is God die Seun en Hy is God die Heilige Gees. Dit is Wie Hy is en hoe Hy na sy wese is. So leer ons Hom uit die Bybel ken, so maak Hy Homself in die Bybel bekend en so glo ons met die hart in Hom en so bely ons Hom met die mond.

En wat nog meer is, as Drie-enige Wese is Hy betrokke by sy kerk, sy gelowiges, sy volk, by ons wat in Hom glo. Dit is die waarheid wat opgesluit lê en wat aan ons toegesê word in die woorde van die teks uit 2 Kor 13:13: ”Die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle almal wees.”
Dit is baie bekende woorde hierdie. Die meeste gelowiges sal dit seker erken as die spreuk waarmee die predikante gewoonlik en waarskynlik meesal, aan die einde van 'n erediens die seën van die Here God aan die gemeente, wat oppad is om weer in die wêreld te gaan leef, toesê en oor die gemeente proklameer. Gewoonlik word dit ook gedoen met uitgestrekte hande as 'n teken daarvan. Die bedoeling is hoegenaamd nie dat daar op die wyse iets soos 'n magiese krag aan die gelowiges oorgedra word nie. Dit is wel deeglik 'n toesegging van die kant van die Drie-enige God, 'n versekering, 'n belofte, 'n bevestiging dat die gelowiges kan gaan leef in die wêreld omring deur, onder dekking van en gedra deur die inhoud van hierdie woorde.


Kom ons dink nou bietjie na oor hierdie bekende, miskien soms selfs oorbekende en daarom op die gevaar af, onbekende woorde. Dit is immers woorde wat aan elke gelowige, ook vir elkeen van ons, die versekering gee dat hy of sy getroos kan lewe en sterwe.


Die apostel Paulus het meermale aan die einde van sy briewe so 'n seën oor die lesers van sy briewe uitge-spreek. Gewoonlik het hy net die woorde "… die genade van die Here Jesus Christus …" gebruik. Aan die einde van die Tweede Korintiërbrief voeg hy by "…en die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees".


Die eerste wat ons moet opmerk is dat dit nie maar net 'n hartewens is nie, maar wel 'n stellige versekering waaroor daar geen twyfel kan bestaan nie. Hy proklameer die versekering of toesegging oor die gemeente. Hy lê dit op die gemeentes, dit sal so wees. Dit staan vas. Die Drie-enige God verbind Hom na sy volle wese aan sy gelowiges.


Tweedens sluit Paulus nie party van die gemeentelede uit nie. Die toesegging geld vir al die gemeentelede. Hy sê uitdruklik: "… julle almal ... " Dit verwonder ons nogal as ons bedink wat hy oor sommige van die gemeentelede skryf. Daar is sprake van twiste, tweedrag, en selfs nog erger: onsedelikheid en dan ook afgodery. Behalwe dinge soos probleme, moeilikhede en bekommernisse, gaan dit dus ook oor ernstige ergerlikhede en selfs gruwelike sondes. Tog sluit Paulus nie diesulkes uit nie. Hierdie toesegging, versekering, geld vir almal.


Derdens moet ons in gedagte hou dat dit nie om drie aparte en los van mekaarstaande sake van genade, van liefde en van gemeenskap gaan nie, maar dit gaan om 'n samevatting in een samehangende geheel van wat die Drie-enige God vir sy gelowiges, sy volk inderdaad is en wil wees.


Ons begin dan by die eerste saak wat genoem word: "… die genade van die Here Jesus Christus …" Die eerste vraag is dus wat is die genade van die Here Jesus Christus? Hoewel die begrip dikwels deur baie gebruik word is dit tog 'n vraag of almal presies weet wat die werklike inhoud van hierdie begrip is. Om dit te verduidelik is tog nie heeltemaal so eenvoudig nie omdat ons nie in die mensewêreld enige werklik vergelykende materiaal het nie. In ons mensewêreld ken ons wel die moontlikheid dat 'n staatshoof 'n misdadiger kan begenadig. Omdat die mag aan hom toegeken is kan hy die misdadiger begenadig deur sy straf te verander of te verminder. Maar dit is ondenkbaar, onmoontlik dat enige staatshoof aan die misdadiger sou sê en dit ook inderdaad sal doen: "Ek vereenselwig my so volkome met jou dat ek nou in jou plek die straf op die misdaad wat jy gepleeg het, op my sal neem en dat ek nou in jou plek in die tronk sal gaan sit of selfs gaan sterf aan 'n galgtou, as dit die straf is wat op jou gelê is.”


Hierdie onmoontlikheid, hierdie ondenkbaarheid is egter waar, is werklikheid as dit gaan om die genade van die Here Jesus Christus. Paulus beskryf self wat die "… genade van die Here Jesus Christus …’ is, as hy vroeër in dieselfde brief sê: "Want julle ken die genade van die Here Jesus Christus, dat Hy, alhoewel Hy ryk was, ter wille van julle arm geword het, sodat julle deur sy armoede ryk kan word." Genade is dan dat Hy wat ryk was, arm geword het sodat ons wat arm was deur sy armoede nou ryk kan wees. Dit gaan dus om 'n plekomruiling: Hy wat ryk was het die plek kom inneem van ons wat arm was om in ons plek ons armoede te dra sodat ons nou ryk kan wees. En hoe ryk was Hy nie en hoe volslae arm was ons nie? Paulus beskryf dit in die brief aan die Filippense: "Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word. En toe Hy as mens verskyn het, het Hy Homself verder verneder. Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis." Hy was ryk, Hy was immers God. Hy het arm geword, so arm soos sy gevalle skepsel, die mens. En hoe arm is die mens nie? Al wat die mens verdien het en kon erf was die dood, die dood aan die kruis, die dood van 'n misdadiger, die dood van 'n vervloekte, deur hemel en aarde uitgestoot. Net 'n plek in 'n graf, tussen die stof van die aarde, self 'n stukkie stof. Die armste en ellendigste plek denkbaar.


Net so arm soos ons het Jesus Christus geword. Hierdie onmoontlikheid het werklikheid geword, nie maar net vanweë die gunstige gesindheid van Jesus Christus teenoor ons nie, maar vanweë sy daadwerklike volkome en volledige vereenselwiging met ons in ons armoede. Dit was nie maar net 'n geval dat Hy aan ons gesê het: "Ek voel innig jammer vir julle dat julle in die treurige, ellendige, hulpelose armoede verkeer nie!" Maar Hy het daadwerklik ons armoede op Hom geneem. Die armoede wat ons verdien het dat daar vir ons slegs 'n plek in 'n krip en aan 'n kruis was, dit het Hy op Hom geneem. Met Kersfees het ons by daardie krip gestaan en op Goeie Vrydag by daardie kruis. Maar dit is nie al nie. Hy het Hom nie net met ons vereenselwig om net maar ook so arm soos ons te wees nie. Hy het ons armoede op Hom geneem om dit weg te dra, sodat ongekende rykdom nou ons erfdeel kan wees. As oorwinnaar het Hy ons armoede en ellende oorwin. Hy het opgestaan uit die dood en as oorwinnaar, aan wie alle mag in die hemel en op die aarde behoort, het Hy opgevaar. Daaroor kon ons feesvier op Paassondag en op Hemelvaartsdag. Deur die wonder van plekomruiling het onbeskryflike rykdom nou ons erfdeel geword: die erfdeel van kindwees van God, van vergifnis van sonde, van opstanding uit die dood, van die ewige lewe. En dit het ons deel geword sonder enige prestasie van ons kant.


Dit is dan nou die genade van die Here Jesus Christus wat die vaste fondament is waarop ons voor die aangesig van God kan leef met die salige wete dat daar vir ons 'n ewige toekoms by God is. Onder die genade kan ons as gelowiges nou veilg en rustig voor God lewe met die wete dat God nie na ons kyk soos ons werklik is nie, maar dat Hy ons aansien deur Jesus Christus. Binne in hierdie genade wat rondom ons is, kan ons as gelowiges met blydskap leef met die vaste wete dat ons deur die krag van God bewaar sal word vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.


Dit is dan die "… genade van die Here Jesus Christus …" Maar hierdie genade het 'n oor-sprong, dit spruit voort uit 'n bron, en die bron, of oorsprong of fontein is "… die liefde van God …". En net so moeilik as wat dit is om genade aan die hand van menslike voorbeelde, of in mensewoorde of –begrippe uit te druk, net so onmoontlik is dit om God se liefde, met dit waaroor ons as mense beskik, na waarde te beskryf. God se liefde is nie te verstaan nie. Hoe kan ons verstaan dat God se liefde daartoe in staat kan wees om sy ewige Seun te gee om met die sondige mens plek om te ruil om in die plek van die mens die straf op die sonde, ook die doodstraf aan die kruis te ondergaan? Dat ons van God se liefde kan praat, beteken dat ons kan weet God is nie net die Skepper van alle dinge nie: Hy is as sodanig ook nie net die Wetgewer wat bepaal wat geregtigheid is nie; Hy is ook nie net die Regter wat kan regspreek en vonnis uitdeel aan die wat oortree nie; Nee, Hy is ook Vader in wie Heiligheid en Liefde een is. Daarom hoor ons "Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy Eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe mag hê." Dalk kry ons in Paulus se lied van die liefde (1 Kor 13) uitdrukkings wat vir ons bruikbaar is om die liefde van God by benadering te beskryf: daar hoor ons van liefde wat alles bedek, alles glo, alles hoop, wat vriendelik is, wat geduldig is, wat nie afgunstig is nie, wat nie grootpraterig is nie, wat nie verwaand is nie, wat nie eiebelang soek nie, wat nie liggeraak is nie en wat nooit vergaan nie. Dit is daardie onbegryplike en ondeurgrondelike liefde, waaroor ons maar net kan stamel, wat die bron van die genade van die Here Jesus Christus is.


Maar verder: die genade van die Here Jesus Christus en die liefde van God sou blote woorde en geen troostende werklikhede gewees het, as ons nie ook seker kan wees van die gemeenskap van die Heilige Gees nie. Dat ons 'n sekere kennis kan hê en 'n hartlike vertroue omtrent die genade en die liefde is te danke aan die werk van die Heilige Gees. Hy is die Een wat laat glo. Deur sy werking het ons gemeenskap, vreugdevolle gemeenskap met die Drie-enige God. Hy is God by ons, God in ons, die Gees van die waarheid, wat gekom het om ons te laat glo, om ons te troos en om ons in die volle waarheid te lei.


Wat Paulus vir ons sê is: Die Drie-enige God bemoei Hom met ons. Hy verbind Hom aan ons. Hy is by ons betrokke. Hy is met die volheid van sy wese aan ons verbind en by ons betrokke. Onder die drieërlei gesigpunt van genade, liefde en gemeenskap vat Paulus dit in die teks saam. Hy verseker die gelowiges daarvan, hy proklameer dit oor die gemeente, hy lê dit op die gemeente. Dit staan vas en dit is seker. As gelowiges sal ons daardeur gedra word, dit is onder ons; dit sal rondom ons wees, ons word daardeur omring en beskerm; dit is bo-oor ons, ons kan daaronder skuil. Kom ons stel dit 'n bietjie anders: Ons verlossing, ons redding en ons saligheid is volkome van A tot Z in God Drie-enig se hande. En dit staan nou reeds vas. Dit word aan die gemeente toegesê, oor die gemeente geproklameer, op die gemeente gelê. Elke keer voor ons die kerkgebou verlaat om terug te keer na die wêreld om daar te gaan leef, ontvang ons hierdie toesegging: die Drie-enige God is by sy gelowiges, by elkeen van hulle. Watter onsekerheid ons ookal mag beleef, watter bekommernisse ons ookal neerdruk of wat-ter probleme en moeilikhede ons ookal mag teenkom, is die Drie-enige God se genade, liefde en gemeenskap onder ons, bo-oor ons en rondom ons.

So sal dit bly tot op die dag dat ons ons Heer sal sien.

Amen