Maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God.

Lofsang:      Ps 43:1
Lees:             Lukas 9:57-62; 2 Konings 2:1-12
Sing:             Ges 274:1,2
Teks:             Luk 9:60(b) – maar gaan jy en verkondig die koninkryk van God.
 
Gemeente van Jesus Christus!
By 'n oppervlakkige lees van hierdie gedeelte kan die tema: Here ek sal U volg maar nie nou dadelik nie, vasgestel word. Hierdie tema ís 'n Bybelse waarskuwing – dat 'n mens bekering nie kan uitstel nie.

Die Bybel is vol daarvan: As jy vandag sy stem hoor moet jou nie verhard nie! Vandag ís die dag van heil, van verlossing, van bekering. Die verhaal bestaan oor die groot Kerkvader Augustinus wat 'n wilde jong lewe gely het, dat hy naderhand 'n besef begin kry het dat hy hom moet bekeer, maar dat hy toe gesê het: kra … kra … Môre – net nie nou nie! Hy wou nog sy sogenaamde vryheid met singenot voortsit. Om die Here te volg moet iets wees wat lidmate, kinders, susters, kerkraad, broers dádelik moet doen. Maar dié Skrifgedeelte handel slegs oënskynlik daaroor.


By nadere uitleg van die gedeelte, handel dit nie oor die fisiese volg van Jesus nie, maar oor die lewensinhoud van die gelowige. Die troue en oral en altyd in alle omstandighede geldende toewyding aan die Here. 'n Mooi voorbeeld daarvan vind ons by Elisa wat sy heer Elia sonder meer van Gilgal na Bet-El, en vandaar na Jerigo, en vandaar na die Jordaan vergesel. Navolging van Christus is nie 'n keuse van één ding teenoor baie nie, maar van één ding in alles. So kon Elisa ook om volgeling van Elia te wees eers ordentlik van sy ouers gaan afskeid neem.


Die gedeelte toon aan dat die fisiese volg van Jesus juis 'n onmoontlikheid is maar dat die evangeliese lewensinhoud die steunpunt van die hele Skrifdeel is.
Die Skrifdeel haal drie voorbeelde aan dat die fisiese volg van Jesus nie moontlik of sinvol is nie maar dat die verkondiging van die evangelie met ons ganse lewensinhoud die sin van ons bestaan is.


Die eerste voorbeeld is díe van 'n skrifgeleerde, volgens Matteus nogal wat selfvoldaan Jesus verseker dat hy Hom sal volg wáár Hy ookal gaan. Jesus wys dit af en sê nie maar hy moet dit dadelik doen nie. Die sinvolle ís dat die skrifgeleerde nie Jesus oral volg nie, maar self oral waar hy, die skrifgeleerde gaan, die blye boodskap van die koninkryk van God sal uitdra. Jesus kan nie fisies oral gevolg word nie. Jesus het nie plekgeriewe op die aarde nie. Die voëls van die hemel het neste en die jakkalse het gate maar die Seun van die mens het nie 'n plek om sy hoof neer te lê nie. Dis nie sinvol nie en nie prakties nie om Jesus fisies te volg nie. En vir ons vandag onmoontlik! Selfs Petrus kon sy belofte om Jesus oral te volg, nie gestand doen nie. Op die ou end eindig Jesus op aan die kruis met die geestelike bête-kenis van die versoening van ons sonde. Die skrifgeleerde kan dit nie doen nie! Om Jesus te "volg" is om die blye boodskap van die koninkryk van God te verkondig, uit te leef, wáár óns ookal gaan.


Waar hierdie eerste voorbeeld van geloofsetiek met plek te doene het, het die tweede voorbeeld met omstandighede te doen. As Jesus vir 'n dissipel uit die massa volgelinge sê: volg My, bedoel Hy kennelik nie 'n fisiese volg nie, want die dissipel is reeds 'n volgeling! Maar hierdie volgeling weet nie wat die betekenis van "volg" is nie, daarom wil hy eers die omstandighede van 'n familiebegrafnis agter die rug kry – en dán Jesus (verder) volg. Sou Jesus ooit kon bedoel dat hierdie persoon die begrafnis opsy moet skuif en dadelik Jesus fisies verder volg? Nee! Dit sou harteloos wees!


Juis Jesus se uitspraak dat die dooies hulle eie dooies moet begrawe, dui daarop dat hulle wat geestelik dood is buite die navolging van Chrisus begrafnis toe gaan, en daarom die begrafnis eers wil afhandel en daarna Jesus fisies verder volg! Nee, sê Jesus: Verkondig die evangelie van die koninkryk van God terwyl jy begrafnis toe gaan! Hierdie verkondiging of lewe uit die blye boodskap dat Jesus juis die Koning van die koninkryk is, die vors van lewe is, is navolging van Christus. Die navolging word nie bepaal deur plek of omstandigheid nie, maar deur die koninkryksverkondiging op alle plekke en onder elke omstandigheid. Ons tekswoorde wat uitstaan bo die vaste sinsordes by al drie voorbeelde van aanbod/uitnodiging, dan gevolg deur 'n voorwaardestelling en daarna 'n gesegde/idioom/spreekwoord, is soos 'n sambreel wat oopvou nie net oor die middelste voorbeeld nie, maar oor al drie – ja oor die hele Skrifgedeelte. Ons teks ís die weerligstraal van die onweer van die hele teksgedeelte!


Die derde voorbeeld dat navolging van Christus nie gaan om fisiese volg van Jesus nie maar om 'n evangeliese lewe, is die persoon wat sê hy sal die Here volg maar wil eers sy familie by die huis gaan groet. Om jou familie te groet as jy fisies die Here wil volg, is nie onbillik nie! Elia laat Elisa toe om dit te doen. Die Here sou dit nooit verbied nie! Hierdie derde voorbeeld dui aan dat navolging van Christus net so min aan tyd gebonde is as aan plek of omstandigheid. Om eers te groet en dus 'n tydsgebeure agter jou te plaas vóórdat jy geestelike navolging van Jesus beoefen is soos om gedurig met jou hand op die ploegstert om en om te kyk. Nee! Navolging is om gedurig, ook met afskeidsgroete, die koninkryk van God te verkondig. Híer doem Elisa weer op by die agterste van die twaalf spanne. As Elisa by die agterste span van twaalf loop kan hy nog te minder met sy hand aan die ploeg bly agter toe kyk. Sy voor moet reguit loop vir die spanne wat voor hom weer daar ploeg!


Navolging van Christus ís om orals, in elke omstandigheid en te alle tye die koninkryk van God te verkondig – in alles wat ons dink en sê en doen.
Anders is jy nie geskik vir die koninkryk van God nie. Sonder om die koninkryk van God te verkondig, is jy nie erfgenaam van die koninkryk van God nie.

Amen.