DIE BYBEL AS WOORD VAN GOD

LEES : PSALM 119

VERS 1 " Dit gaan goed met die wat onberispelik lewe, die wat wandel volgens die woord van die Here "

In ons dag en tyd is daar weer opnuut die soeke na 'n hoër wese en doel. Mense soek na God en na die sin van die lewe. Maar mense soek dit nie graag meer in die Bybel nie.  Want, so reken baie, die Bybel is te moeilik, oudmodies en sy tyd is verby. Mense soek dit in alle ander bronne.


Die enigste betroubare bron om die God van liefde te ken en nog beter te ken is die Bybel. Hierdie versameling boeke waar God mense gelei het om Homself genoegsaam bekend te maak. Hierdie geskrewe woord vertel ons van die Lewende God. Wanneer ons wil weet wie God is, kyk ons na Jesus Christus. In Hom is God volkome aan ons geopenbaar.
Hoe lyk God ? Kyk na Jesus Christus. Wat vra God van my ? Kyk na Jesus Christus !

Die Bybel is die getuienis van hierdie openbaring.

En daarom staan 27 Augustus 1933 as nog 'n ongelooflike stuk genade in die lewe van die Afrikaanse kerke. Want op hierdie datum is die eerste Afrikaanse Bybel in gebruik geneem sodat ons voortaan in ons eie taal kon lees en hoor van die liefdevolle God wat in Christus ons gered het.

Mag ons nooit nalaat om God te dank vir sy liefde nie. Mag die wysheid van Psalm 119: 1 ons inspireer om aan te hou lees en hoor en lewe uit die bron van alle lewe, Jesus Christus, Woord van God, self ook God.

Want inderdaad, dit gaan goed met die wat wandel volgens die woord van God.


Gebed

Here, dankie dat ons u Woord in ons eie taal kan lees en hoor. Amen