Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg.

Matteus 5:43-48

Julle het gehoor dat daar gesê is:” Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat.” Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg.

Die jode het hier gemaak met Moses soos ons vandag Jesus aanhaal en sê gee die keiser wat hom toekom, en dan self bysit, maar nie wat hy vra nie.

Hier in hoofstuk vyf kom lê Jesus die volle konsekwensie van die wet van God binne die koninkryk van die Hemele uit.  Hiervan is Matteus 5:43-48 dan die hoogtepunt en die volle omvang van die liefdesgebod teenoor God en ons naaste wat ook in die liefde teenoor ons vyande moet uitkom.

Hier word ongedefinieerd na die vyande verwys.  Dit sluit almal in wat jy juis nie wil liefhê nie, selfs mense wat jou vervolg en doodmaak.

Jesus se oproep is dat gelowiges soos hul Hemelse Vader sal wees.  Kinders van God se optrede moet immers hul verbondenheid met hul Vader wys. God se algemene genade is immers vir alle mense, goed en sleg.  God hou die natuur in stand en voorsien gesondheid, voorspoed en reën aan alle mense.

Die koninkryk van die hemele breek juis ook daar deur waar ons dit regkry om ons vyande in liefde te hanteer.  Juis dan is ons volmaak soos God volmaak is.  Volmaak wys hier eintlik op ‘n onverdeelde hart.  Ons kan nie ons naaste met een deel van ons hart liefhê en terselfdertyd ons naaste haat nie.  Ons moet met ons hele hart die koninkryk van God soek en God se wil doen en ons eie sondige bestaan en begeertes afsweer.

Die vyande daar ver is die maklike mense om lief te hê, te vergewe en voor te bid.  Die moeilikste mense om lief te hê is die mense in ons familie en in ons kerk.  Die kerk is die gemeenskap van gelowiges wat ontstaan het uit die liefde van Christus vir ons.  Juis daarom behoort die kerk ook die plek te wees waar God se hemelse koninkryk gestalte kry.  Behoort ons ook uit liefde en dankbaarheid teenoor God dit wat vir die wêreld onmoontlik en onsinnig lyk,  reg te kry naamlik om ons vyande lief te hê.