Geseënd is die wat vervolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die Hemel.

Matteus 5:10-12

Die Bybel verkondig nie vir ons ‘n voorspoedsteologie nie.  Daar word allermins vir ons voorspoed en rykdom in hierdie lewe belowe as ons hier op aarde volgens die Woord en die wil van God leef.  Jesus sê nie verniet sy koninkryk is nie van hierdie wêreld nie.

Ons as gelowiges is vreemdelinge en bywoners hier op aarde.  Ons sal soos buitestaanders en mense sonder enige regte behandel word.  As ons egter ter wille van ons geloof ly op aarde moet dit ons nie moedeloos maak of laat tou opgooi nie.  Inteendeel moet dit ons geloof versterk want kyk hoe het die wêreld met Jesus en die profete en apostels gemaak.  Ons is tog nie beter mense dat dit nou met ons moet beter gaan nie.

As ons egter hier op aarde pyn en lyding ervaar kan ons soos Paulus seker wees dat hierdie swaarkry nie kan opweeg teen die heerlike toekoms wat vir ons voorlê nie.  Daarom moet ons ook soos goeie soldate van Christus bereid wees om ons deel van die lyding met volharding te dra.

Om God se koninkryk hier op aarde te laat verwesenlik vra vir ons offers en opofferings.  CJ Langenhoven het gesê Gee my ‘n man wat doen wat reg is as die regter weg is, wat sê wat waar is as die duiwel daar is, wat trou by sy gewete bly as hy straf in plaas van verdienste kry.

Om aan God en sy Woord getrou te wees sal van ons as gelowiges ook vra om soos die profete en apostels voor ons en soveel ander martelare deur die eeue heen, ons kruis op te neem en Jesus te volg, wat die konsekwensies hier op aarde ook mag wees.