Verklaring 17 April 2012

Die komitee van steedsHervormers het op 16 April 2012 vergader.  Drie sake is hanteer naamlik, skrywes ontvang vanaf die Bemiddelingskomitee, die verklaring deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering en die beplanning vir ons Formaliseringsvergadering. 

Ter inligting wil ons die volgende sake onder u aandag bring. ‘n Volledige verklaring sal later uitgereik word.

Skrywe ontvang vanaf die Bemiddelingskomitee gedateer 11 April 2012. (Aanhangsel A)

  1. In aanhangsel A word verwys na die reglement wat deur die Bemiddelingskomitee aan die komitee van steedsHervormers voorgelê is.  Hierdie reglement is nie aanvaarbaar nie.  Dit  wil van steedsHervormers bloot ‘n vereniging van individue maak en ons ondergeskik stel aan besluite van die Kerk, waarteen ons juis beswaar maak. 
  2. Hierdie betrokke skrywe kan geïnterpreteer word as dat ons versoek, soos verwoord in die vraag “Is die steedsHervormers se standpunte vir die NHKA aanvaarbaar of nie en kan ons volledig as lidmate sowel as gemeentes binne die Hervomde Kerk geakkommodeer word?”, afgewys word.  
  3. Verdere stappe sal tydens die Formaliseringsvergadering bespreek word.

 

Verklaring deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering (Aanhangsel B)

Ons het kennis geneem van die verklaring deur die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering, gedateer 13 April 2012.  In die verklaring word daarna verwys dat verdere stappe gedurende die week van 16 tot 20 April 2012 bekendgemaak sal word, waarna ons volledig op die skrywe sal reageer.  Kortliks die volgende:

  1. Dit is met spyt dat ons verneem dat die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering die interne spanning bloot toeskryf aan “besluite oor apartheid”  Hierdie interne spanning weens verskeie teologiese kwessies is immers reeds vir ‘n geruime tyd ‘n realiteit binne die NHKA. 
  2. Verder wil ons dit duidelik stel dat ons in skrywes gedateer, 26 en 28 Maart 2012, die Bemiddelingskomitee meegedeel dat het dat daar nog nie op die steedsHervormers se versoek om ‘n beginselbesluit ten opsigte van akkommodasie te neem, gereageer is nie (vergelyk punt 2 hierbo).  Hierdie versoek is by herhaling van die heel eerste gesprek met die Bemiddelingskomitee aan die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering gerig.  Soos u sal opmerk, is hierdie versoek soos in ons skrywes herhaal, tot nou toe nog nie direk beantwoord nie.  Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering was dus nie bereid om op ‘n redelike versoek te reageer nie.  Teen hierdie agtergrond het ons dit duidelik gestel dat ‘n sperdatum soos 30 Maart 2012 vir die indiening van ‘n reglement, nie in die gees van ons versoek is nie. 

(Vir u kennisname heg ons die twee skrywes aan – Aanhangsel C & Aanhangsel D)

 

Formaliseringsvergadering

Die volgende inligting is uiters belangrik:

PLEK:                          Gemeente Meyerspark

DATUM:                       2 Junie 2012

TYD:                             Registrasie vanaf 07:30

                                     Opening 09:00

AGENDA:                    Die volledige agenda sal op die dag van die vergadering beskikbaar gestel word.  ‘n Sakelys sal egter vooraf elektronies versprei word.

AFGEVAARDIGDES: Almal wat hulself met die saak van steedsHervormers assosieer.

 

Hierdie vergadering is uiters belangrik en sal die weg vorentoe bepaal.  Ons wil dus ‘n beroep op u doen om alles binne u vermoë te doen om hierdie geleentheid by te woon.

 

Met dank

Ds FNS Marais

Skriba

steedsHervormers.