Verklaring 12 November 2011

Tydens ‘n vergadering wat plaasgevind het op 12 November 2011, waartydens 66 gemeentes van die NHKA verteenwoordig was met ‘n totale bywoning van 268  lidmate , is die volgende besluite geneem:

  • Die steedsHervormers belydenis gespreksgroep is amptelik in die lewe geroep.  Kortliks word die steedsHervormers as volg gedefinieer:
  1. Hierby staan ons, dit kan nie anders nie:

  2. Tree ons weg, tree ons uit die ware LIG.

  3. Tree ons terug, versaak ons die WAARHEID.

  4. Tree ons uit,  verloor ons die LEWE.

Op grond van die huidige geloofskrisis in die Kerk besluit ons as gemeentes en lidmate van die NHKA om ons te versamel as ‘n konfessionele groep (belydende gespreksgroep) met die naam “steedsHervormers”.  Hiermee wil ons te kenne gee dat;

  • ons steeds onsself sien as Hervormers en as die ware voortsetting van die NHKA,
  • ons nie van die NHKA wil wegskeur nie,
  • ons vereenselwig onsself met die teologiese tradisie van die NHKA.

As steedsHervormers wil ons getrou bly aan die trotse tradisie en geskiedenis van die Hervormde Kerk;

  • Ons bly getrou aan die Bybels-Reformatoriese teologie soos bedryf in die Hervormde Kerk oor geslagte heen.  Dit beteken dat ons werk met die Bybel as die Woord van God, die gesagvolle openbaring van God.  Ons gee gehoor aan die wekroep om telkens te hervorm na die eise van die Skrif.  Ons staan by die belydenisskrifte en bely met die geloofsbelydenisse onverkort en sonder interpretasie wat eie inhoude gee.  Ons onderteken die belydenisskrifte omdat hulle met die Bybel ooreenstem (Quia).
  • Ons bly getrou aan die liturgie wat getuig van gewyde, respekvolle en stigtelike diens aan God Drie-Enig. 
  • Ons verstaan onsself as volkskerk, ons is oortuig dat mense verskillend in die skepping is en dat volkskerkgerigte sending hierdie verskille eerbiedig en die uitdra van die evangelie bevorder.

Hiermee grens ons onsself af van:

  • Die liberale teologie wat werk met ‘n oop kanon en die Bybel sien as menslike nadenke oor die goddelike. 
  • Enige persoon, groep of instansie wat die belydenisskrifte verstaan as dat hulle net geld insoverre die belydenisskrifte ooreenstem met die Bybel (Quatenus).
  • Diegene wat van die erediens ‘n vermaaklikheidsgeleentheid maak waartydens die mens in die middelpunt te staan kom. 
  • Die bevrydingsteologie wat werk met ‘n integrasie model wat alle menslike verskille sonder respek ignoreer.

 Verder word alle gemeentes, ampsdraers en lidmate opgeroep om hulle uit te spreek oor hulle deelname, al dan nie, aan die belydende gespreksgroep genaamd steedsHervormers.