Eerste Verklaring

God Drie-Enig

- Ons glo in God Drie-Enig soos dit in die dogma verwoord is, deeglik bewus van die mens se onvermoë om die aard van hierdie geheimenis na behore te verwoord.

Jesus Christus

- Ons glo in Jesus Christus, ware mens en ware God. Jesus Christus is HERE .

Ons glo dat Jesus van ewigheid God is, die Skeppingsmiddelaar. Ons glo dat Jesus gebore is uit die maagd Maria. Jesus het gesterf aan die kruis om te betaal vir ons sondes. Hy is vroeg die Sondag opgewek in ‘n verheerlikte liggaam. Hierdie opstanding het plaasgevind in die geskiedenis en het op alle vlakke van bestaan betekenis vir elke mens. Al kan die wetenskap dit nie verklaar nie, hou ons vas aan die historiese werklikheid van die opstanding, net soos die werklikheid van die skepping.

Die Bybel

Ons glo God openbaar Homself deur sy Woord. Die Bybel is God se Woord bestaande uit die Ou Testament en Nuwe Testament. Hierdie Woord is die geskrewe woord, die vleesgeworde Woord, die verkondigde woord, en hierdie drie begrippe staan in wisselwerking met mekaar. Ons lees die Bybel met die veronderstelling dat die ewige inhoud vervat in hierdie antieke dokument deur die Gees altyd weer nuut, eietyds en relevant verwoord word in die gelowiges se omgaan met die Bybel. Die eenheid van die Bybel kom in die Ou- en Nuwe Testament na vore, aangesien beide Ou Testament en Nuwe Testament van dieselfde God getuig.

Geloofsbelydenisse

Ons aanvaar die belydenisse wat uit die vroeë Kerk kom (Apostolicum, Niceano-Constantinopolitanum en die Athanasius) asook die formuliere van eenheid (NGB, Heidelbergse Kategismus, Dordtse leerreëls). In hierdie belydenisse is die samevattings van die waarhede van die Bybel. Die belydenisse word daarom bely en die inhoud geglo en deur elke predikant as gesaghebbend aanvaar en so aan ander geleer. Belydenisse word nie in eie konteks herinterpreteer nie. Indien daardie behoefte bestaan, moet daar nuwe geloofsbelydenisse formuleer word op grond van ‘n nuwe eie interpretasie van die Bybel.

Kerklike eenheid

Ons glo soos die Kerk en saam met die Kerk dat daar een heilige algemene Kerk is. Hierdie eenheid is gegrond in die eenheid van leer, gegrondves in die leer van die Apostels. Ons is ‘n belydende Kerk en nie ‘n interpreterende kerk nie. Ons vind die eenheid van die kerk in die verkondiging van die Bybel en nie in kerklike strukture nie. Kerklike strukture staan in diens van die uitbreiding van die evangelie.

Geloof en Diens

-

Jesus Christus regeer en is Heer en Hoof van die ware kerk. Deur die leiding van die Heilige Gees gee God aan die gelowiges dienaars wat in die voetspore van Jesus moet loop ter wille van die uitbreiding van die evangelie. Oor die toerusting van hierdie dienaars is die Skrif ook nie voorskriftelik nie, maar tog vol belofte. Die Here self roep dienaars tot ‘n bepaalde taak in die kerk, en hulle word deur die Gees self toegerus vir hulle dienswerk in die kerk.

Inklusief en Eksklusief

Die evangelie is inklusief en eksklusief. Die evangelie se kernboodskap is dat God se genade vir alle mense is. Dit is inklusief. Die hartseer is dat nie alle mense hierdie genade aanvaar of in God glo nie. Dit maak die evangelie ook eksklusief. Dit is ‘n verdraaiing om die evangelie te beskryf as “inklusiwiteit”. “Inklusiwiteit” kan nooit beteken dat mense in volharding van ongeloof of sonde deel van die kerk kan word of wees nie. Die effek van die evangelie is dat mense inklusief moet dink en praat in die uitdra van die boodskap. Hulle wat die boodskap glo, word deel van die eksklusiewe gemeenskap van uitverkorenes wat dan ‘n ander lewenstyl begin volg.

Die mens as beelddraer en sondaar

Ons glo dat ons na die beeld van God geskep is. Die sondeval het hierdie beelddraerskap totaal vernietig. Christus het gekom, gesterf en opgestaan en ons as sondaarmense herskep sodat ons weer beelddraers kan wees. Al het die mens baie potensiaal, is die mens van nature die sonde. Dit is ‘n mistasting om sonde met onvermoë te verwar.

Liturgie en Geloof

Een van die vorms waarin God na ons toe kom is in die woordverkondiging in die kerk. By die geleentheid rus God ons toe vir ons dienswerk in die wêreld. Gelowiges se ware liturgie is hulle antwoord in dienswerk en hulle pogings om die Woord verder te verkondig. Ons is oortuig dat ons dankbaarheid aan God vir die genade wat oor ons uitgestort word, ons roep tot ‘n totaliteit van optrede. Hierdie optrede in dankbaarheid sluit in die gee van offergawes. Hierdie offergawes word gebruik om die evangelie te bevorder. Offergawes is ook erkenning dat ons nie al die werk van die kerk kan doen nie maar ander in staat wil stel om namens ons op te tree.

Eskatologiese perspektief.

Ons glo dat daar ‘n duidelike einde aan die huidige bedeling sal wees. Die eindtyd sal aanbreek wanneer Jesus weer kom. Die wederkoms is die oorgang na die ewigheid van God se nuwe hemel en nuwe aarde. Die wat glo, sal hierdie nuwe bedeling van God binnegaan.