Protes

Veertien bedankings net die begin

Nog 'n brief wat Beeld weier om te plaas.
 
Dr Gerhard Lindeque, redakteur van Die Hervormer, het by verskeie geleenthede verklaar dat dit sy redaksionele beleid is om nie artikels of briewe te plaas wat krities is teenoor die kommissie of die teologiese opleiding staan nie. 
Dr Frikkie Labuschagne, sekretaris van die kommissie van die AKV, het vroeër vanjaar tydens ‘n byeenkoms van enkele oud-Meyerspark gemeentelede in die personeelkamer van Laerskool Skuilkrans in Pretoria daarmee gespog dat die kommissie “gelukkig die Afrikaanse openbare media aan sy kant het.” Is dit die rede waarom BEELD nie hierdie brief wou plaas nie?
 
Geagte Redakteur,
 
Neels Jackson se berig “Dié wat loop nie meer leraar - Kan nie sakramente bedien – kerk”  in Beeld van 23 Augustus 2013 verwys.
 
Die NHKA sit nou sonder veertien predikante wat onbeskaamd die evangelie verkondig en vir die behoud van die suiwerheid daarvan opgestaan het. Dié kerk se kommissie sit egter met bebloede hande, nie oor die eerlose wyse waarop hulle hierdie predikante verontreg en van hulle ontslae geraak het nie, maar met die bloed van Jesus Christus wat hulle ‘n tweede keer gekruisig het. 
 
Dit is verstikkend snaaks dat die drie professore, wat skriftelik en onderskeidelik ontken dat: die Bybel die Woord van God is, Jesus uit die maagd Maria gebore is, Jesus Christus die Seun van God is, daar ‘n hemel en ‘n hel bestaan, en die Bybel voorskriftelik is oor seksuele verhoudings, vrylik op Hervormde kansels toegelaat word en direk of indirek betrokke is by predikante opleiding. Self glo hulle nie die boodskap van die Doop en Nagmaal nie, maar mag dit bedien.
 
Voeg daarby die predikant wat, in opdrag van die kerk se leierskorps, gewilliglik en onberouvol meineed gepleeg het, en al ses die predikante op die kerk se kommissie wie se dienstermyn van drie jaar besaai is met leuens en disinformasie. Dan is die verbod om vanaf Hervormde kansels te preek, eintlik ‘n veertjie in die hoed van die veertien predikante wat bedank het. 
 
Indien die Algemene Kerkvergadering van September nie sy leierskorps vervang nie, is hierdie veertien bedankings net die begin. 
 
Lank lewe die Hervormde Kerk? Nee, lank lewe die evangelie van Jesus Christus! 
 
Gawie Wolmarans.