Protes

Reaksie deur dr Johan Otto op omsendskrywe 17: RIGLYNE AAN KERKRADE TEEN DIE AGTERGROND VAN KERKLIKE AFSKEIDING


(Reaksie word puntsgewys aangedui van 1-26.)

Dr. Otto:
Dit is nie altyd nodig of gewens om te reageer op elke skrywe wat die KommAKV die lig laat sien nie. So byvoorbeeld sou daar uitgebreide reaksie kon wees op verskeie artikels in die kerklike publikasies en skrywes van die Moderamen en die Kommissie self. Die nuutste haatspraak van die KommAKV roep eintlik om reaksie. Kom ons, anders as die KommAKV, temper egter ons reaksie en onthou dat ons binne die kerk besig is.

  1. Kommissie:

Die afgelope twee jaar sedert die 69ste Algemene Kerkvergadering (AKV) was 'n moeilike en tragiese periode in die geskiedenis van die Hervormde Kerk. Ten spyte van pogings om 'n kerklike afskeiding te voorkom, staan die Hervormde Kerk nou voor die voldonge feit dat 'n groep predikante en lidmate hulle van die Kerk afgeskei het.Die Kommissie van die AKV (Kommissie) het in hierdie tyd talle pogings aangewend om 'n afskeiding te verhoed. Die Buitengewone Algemene Kerkvergadering (BAKV) was op 1sigself 'n uitsonderlike stap om kerklike afskeiding te probeer voorkom. Dit was maar die derde keer in baie jare dat 'n buitengewone AKV belê is.

            Dr Otto:

 Dit is nie korrek nie. Die BAKV was ‘n poging om die beswaar teen 54/69 nek-om te draai. Die BAKV was byeengeroep om te handel oor die Beswaarskrif wat ingehandig was. Ten spyte daarvan dat die beswaardes gevra het vir ‘n AKV (“plaas ‘n moratorium op 54/69 en laat die 70e AKV daaroor besin” Mei 2011) het die KommAKV volhard met hulle besluit om dieselfde mense wat die besluit geneem het, regter te laat speel oor hulle eie besluit. Geen skeuring was op die agenda of tafel nie, net die beswaarskrif.

  1. Kommissie:

  Daarbenewens is deurlopende pogings aangewend om kerklike afskeiding te verhoed. Dit was onmoontlik om volledig oor al die pogings verslag te doen, want daar is drie hofsake teen die Kerk gemaak wat dit soms baie moeilik gemaak het om volledig te rapporteer sonder om die Kerk se regte te benadeel. Dit is 'n duidelike strategie wat deur die wegbreekgroep gevolg is.

Dr Otto:

Hierdie stellings is ook misleidend en word geensins deur feite gerugsteun nie. Veral die laaste stelling word met minagting verwerp. Daar was geen “duidelike strategie”, of verskuilde strategie nie, elke saak is op meriete hanteer. Enige poging om skeuring te verhoed, kan tog nooit die kerk se regte benadeel nie.

Wat wel die wenkbroue laat lig, is die veralgemening wat hier aan die werk is deur te verwys na drie hofsake. Die hofsaak rondom ds Steenkamp was ‘n noodgedwonge aksie om duidelike viktimisasie teen hom stop te sit. ‘n Regter sou tog nie om dowe neute die dringende hofbevel goedkeur nie. Impliseer die KommAKV dat die dringende hofbevel hulle reg tot viktimisasie in gedrang bring?
 Die nuutste episode waar ds Mouton onthef is, teen die kerkorde in ( Kerkordinasie 2.1.12.5 Onbekwaamheid (i) Die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering kan 'n predikant sonder tughandeling onthef van ampsvoorreg of losmaak van 'n standplaas indien dit blyk dat die predikant vanweë mediese of ander redes onbekwaam is om die dienswerk, soos bepaal in die Kerkorde en beroepsbrief, te verrig. (ii) Tydens die ondersoek word die predikant, wat geregtig is op bystand deur 'n lidmaat van die Kerk, aangehoor. (iii) 'n Beroep teen 'n beslissing van die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering word gedoen by die Algemene Kerkvergadering. (iv) Indien die predikant onbekwaam bevind word, reik die Kommissie van die Algemene Kerkvergadering 'n Akte van Ontheffing uit en stel die
Pensioenfonds dadelik in kennis. (v) Die kerkraad maak die predikant los van ampspligte. Die KommAKV het bloot (1) gelees en ds Mouton se regte vertrap
) en teen arbeidswetgewing in, laat onwillekeurig die vraag ontstaan na die pastorale besorgdheid en partydigheid van die leierskorps van die NHKA.
Aan die ander kant hoef die KommAKV nie verslag te doen oor die “deurlopende pogings” nie aangesien die steedsHervormers telkens terugvoer gegee het oor alle die verwikkelinge en inisiatiewe. Een so ‘n saak waaroor daar tot op datum min inligting vanuit die Kommissie-spreekbuise gekom het, is die vele pogings tot mediasie, pogings wat telkens deur die KommAKV verwerp word. In die nuutste sH korrespondenise aan die Kommissie word daar drie keer versoek dat mediasie moet plaasvind. Hierdie versoeke gaan soos die voriges, onbeantwoord bly. Die bemiddelingskomitee se pogings was ook maar effens, en nou kry onafhanklikes die skuld vir die verbrokkeling van reeds brose verhoudings.

  1. Kommissie:

Die Kommissie asook ringskommissies is verhinder om met die lidmate te praat in van daardie gemeentes waar die predikante ten gunste van skeuring was. Skrywes van die Kommissie is eenvoudig van lidmate weerhou. Die sosiale media is gebruik om 'n besonder eensydige prentjie te skets. Gewone lidmate wat net wil kerk toe gaan en die Heer van die kerk wil dien, is deur al hierdie verwikkelinge ontstel en in vertwyfeling gelaat.

Dr Otto:

Hierdie munt het twee kante. Dit mag die KommAKV se ervaring wees dat inligting van lidmate weerhou is, maar steedsHervormers kan getuig van die onkunde waarin sekere predikante hulle lidmate voorgaan.
Oor die sake word nie gepraat nie, skrywes (selfs van die KommAKV) is nie altyd gelees nie, omdat dit skynbaar onrus veroorsaak. Voorbeelde is in oorvloed beskikbaar.
Almal wil ook net kerk toe gaan en die Heer van die kerk dien, maar dan met die wete dat ons diens nie deur dwalinge wat geduld word, besmet word nie. Die woordjie “verhinder” getuig ook van blatante oogklap-retoriek. Alle toegang tot kerklike publikasies is ons in effek geweier, plasings van persone wat die werkswyse van die “voor-ryers” bevraagteken’ word steeds van die NHKA se amptelike bakkiesblad verwyder (terwyl nuwe Hervormers en self-erkende ateïste na hartelus kan deelneem).
Om die sosiale media te noem, spreek van huigeling:
Waar het die dosente hulle verklaring vrygestel?
Waar het die homoseksuele teologiestudent, wat in sy eie woorde wag om saam met sy lewensmaat in die pastorie in te trek, sy saak laat bevorder?
Rep “RSG” geen woord oor hierdie saak nie?

  1. Kommissie:

Waarvan elke lidmaat seker kan wees, is dat die NHKA steeds die Hervormde Kerk is waarvoor hy/sy nog altyd lief was. Niks het verander nie en niks gaan verander nie. Dit bly die Hervormde Kerk se roeping om die blye boodskap van Jesus Christus, die gekruisigde en opgestane Heer, te verkondig. Die NHKA bely in gemeenskap met die kerk van alle eeue ons geloof in die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat Homself en alles wat vir ons verlossing nodig is, duidelik en voldoende deur sy Woord, die Bybel, bekendmaak.

Dr Otto:

Is dit werklik so? Het die krampagtige vashou aan 54/69 nie die nuwe teologie in die NHKA verskans nie? Die beeld van God is werklik in die mens (panenteïsme) en die mens is nie meer beelddraer van God nie? Die kansels wat in gemeentes afgebreek is, die predikante wat sonder toga en selfs met oopslaan hemp preek was nog altyd deel van die NHKA se ryke erfenis? Die Wet en Belydenis word nog steeds elke Sondag in elke NHKA erediens gelees? Q en Thomas word nie deur die dosente gebruik en aangehaal nie en die KommAKV het nie in sy verwerping van die Staat van Belydenis die bestaan van Q in die Bybel regverdig nie? Alle predikante en dosente en lidmate glo soos die Kerk, saam met die Kerk en met dieselfde inhoud as die Kerk dat Maria werklik maagd was, dat Jesus fisies opgestaan het en in ‘n ewige lewe?

  1. Kommissie:

Dit is die Kommissie se oortuiging dat baie lidmate meegesleur is deur emosie en groepsdruk en in 'n drukgang geplaas is, veral deur sekere predikante wat selektief met die feite omgegaan het en nog steeds so daarmee omgaan. Daar moet dus met groot liefde en verdraagsaamheid opgetree word. Die Kommissie weet ook dat daar persone is wat daarvan oortuig is dat hulle reg is en dat die res van die Kerk verkeerd is. Daar rus egter 'n plig op elke lidmaat en ampsdraer om te help dat dit wat ons aanmekaar bind, beskerm word.

Dr Otto:

Hierdie bewering dat lidmate meegesleur is, is waarskynlik waar na albei kante toe. Die KommAKV impliseer egter dat net een party verkeerd is, en dat hierdie party die sH is. Die aanklag dat daar selektief met inligting omgegaan word, is ‘n ernstige een. Dit kom neer op oneerlikheid en bedrog. Die aanklag word egter gemaak sonder enige bewyse ter stawing. Dit kom ook neer op laster. Sodanige stelling kan slegs gemaak word indien ‘n hof so bevind het. Tot die bewering ‘n feit geword het, moet die KommAKV dalk begin in hulle spore trap oor al die lasterlike bewerings wat hulle maak. Alle sH predikante ontken die bewering en wil dit onomwonde stel dat albei kante van die saak volledig aan die lidmate voorgehou is en dat lidmate nie ‘n emosionele wipplank besluit geneem het nie, maar ‘n deurdagte geloofsbesluit geneem het.
Aan die ander kant moet ons darem aan baie KommAKV predikante die pluimpie gee dat hulle glad nie selektief met die inligting omgegaan het nie. Sonder diskriminasie het hulle alle inligting van hulle lidmate weerhou.

  1. Kommissie:

Die Kommissie van die AKV het al die verwikkelinge by sy vergadering van 8 en 9 November 2012 deeglik bespreek en wil graag die volgende duidelik stel:

1. Lidmaatskap, kerklike afskeiding, en die verbreking van die onderlinge geloofs-band

Elke lidmaat van die NHKA is gebonde aan die Skrif, die belydenisse van die Kerk, die gebruike in die Kerk en die Kerkorde wat een geheel vorm. Dit is die band wat ons aan mekaar bind, en waartoe ons almal by belydenis van geloof met 'n belofte ingestem het.

Dr Otto:
Ons is inderdaad gebonde aan hierdie sake. Daar is egter ‘n rangorde:
Die Bybel is die belangrikste, die belydenisse is volgende in lyn omdat hulle met die Bybel ooreenstem en die hoofmomente van die Openbaring kort saamvat. Daarnaas kom die Kerkorde wat in afgeleide sin die Bybelse beginsels regtens probeer toepas in terme van onderlinge orde en daarmee saam is die NHKA se gebruike (usansie) ‘n riglyn. Lidmate belowe inderdaad dat hulle hierdie sake voorop stel, maar lidmate van ander kerke word in die NHKA toegelaat omdat hulle die Bybel en belydenisse onderskryf. Hulle verbintenis tot die NHKA se etos kom eers later.

  1. Kommissie:

Die bestaan van sogenaamde "onafhanklike gemeentes" binne die NHKA is onversoenbaar met wat ons al die jare geglo en beoefen het. Dit is vreemd aan die Hervormde Kerk. In die Hervormde Kerk het ons dwarsdeur ons geskiedenis verskille deur gesprek en studie opgelos. Indien ons van iemand verskil het, het ons die saak met die individu opgeneem en nie daaroor in die openbare media geskryf nie. Hervormers skeur nie die Kerk nie.

 

Dr Otto:

Onafhanklike gemeentes is dalk vreemd, maar nie “onversoenbaar” met jare se praktyk nie. sH wil dit onomwonde stel dat die praktiese inrigting van kerkwees nie ‘n saak van geloof is of was nie, maar ‘n saak van oortuiging en praktyk. Anders gestel, onafhanklike gemeentes is nie “teen ons geloof” nie.

Die stelling dat Hervormers nie die kerk skeur nie, dien spesiale vermelding. Die emosie-belaaide stelling mik na manipulasie en plaas die skeiding van die weë vierkantig voor die deur van sH. Wie het, (in Junie 2012 in twee opeenvolgende briewe) met die verwerping van die Staat van Belydenis gestel dat lidmate wat nie saamstem nie, moet bedank? Die vraag kom nou na vore na die KommAKV se definisie van skeuring. Lidmate wat nie saamstem nie en bedank, gee gehoor aan hulle versoek/dreigement. Lidmate wat bedank en met hulle eiendom loop, is besig met kerkskeuring. Dit lyk na ‘n definisie vol vooroordeel. Hoe anders moet ons die saak interpreteer?

  1. Kommissie:

Diegene wat meewerk om gemeentes van die NHKA te laat afskei ("onafhanklik" te verklaar), sê daardeur hulle lidmaatskap van die NHKA op en skeur die Kerk. Hierdie persone het dus met die NHKA geen verdere verband nie.


Dr Otto:

Dit is nou tyd dat die eiegeregtige aanmatigende magsvergryp van die KommAKV ontmasker word. Die KommAKV ontvang ‘n sekere mandaat vanaf die AKV. (Kerkorde Ordinansie 3.8.2 (ii) die AKV neem besluite oor (a) leer en belydenis, (e) orde en dissipline, asook 3.10.2 Werkopdrag van die KommAKV (i-xx) en veral (x) voer opdragte van die AKV uit). Buite hierdie mandaat mag hulle nie optree nie. Die KommAKV het aanvanklik die beswaarskrif verwerp en eers by navraag oor redes het hulle teruggekrabbel en die BAKV (kom ons speel regter oor ons eie besluite) belê.

Die KommAKV het die Staat van Belydenis verwerp, later gekom met redes, en dit terwyl net die AKV mag besluit oor belydenissake. Hierdie keer was hulle nie eens bereid om terug te krabbel en die saak na die AKV te verwys nie, selfs nie toe hulle met die saak gekonfronteer is nie.

Dieselfde vergryp vind ons nou by herhaling rondom die saak van lidmaatskap. Renette du Plessis is byvoorbeeld al by herhaling laat weet haar optrede (voorsitter van Hervormde kerkvereniging, haar klag teen AG van Aarde) maak dat sy haarself buite die NHKA plaas. Dieselfde boodskap is gestuur na ouderlinge wat deel is van die Hervormde vereniging (wat die kerk gedagvaar het rakende 54/69). Met die verwerping van die Staat van Belydenis, is gestel dat lidmate wat dit onderteken, hulself buite die Kerk plaas. Nou word lidmate wat deel is van die onafhanklike gemeentes, die nuutste toevoeging tot die uitgelese groep verwerptes.                   Die KommAKV het geen so ‘n bevoegdheid nie!
Daar is slegs een liggaam wat die bevoegdheid het om te besluit oor lidmate se status, en dit is die Ouderlinge.

Slegs die Ouderlinge van die plaaslike gemeente kan besluit oor die lidmaatskap van persone (Kerkorde Ordinansie 3.1.2(xiii)(a-d (xiv) behandel alle aangeleenthede rondom lidmaatskap van die gemeente ondermeer deur (a) lidmate toe te laat tot openbare geloofsbelydenis (b) aansoeke om lidmaatskap te hanteer (c) gesprek te voer oor die leer en lewe van intrekkende en vertrekkende lidmate (d) sorg te dra dat register van doop en belydende lidmate gehou en bewaar word; Ouderlinge en lidmaatskap). Aan die ander kant kan lidmate self besluit om te bedank. Hierdie bedanking is ‘n doelbewuste keuse. Lidmate bedank en stel die Ouderlinge van die besluit in kennis. Die AKV gee wel riglyne aan Ouderlinge in terme waarvan hulle kan besluit, maar die Ouderlinge kan buite die riglyne om steeds besluit. Die AKV moet nog eers besluit oor riglyne rondom NHKA gemeentes wat verkies om onafhanklik voort te bestaan. Die KommAKV kan nie nou daaroor riglyne gee nie. Die KommAKV kan nie namens Ouderlinge besluit dat sekere lidmate nie meer lidmate is nie. Daar is geen plek vir die woord “dus” in die sin hierbo nie, dit getuig net van die aanmatiging van die KommAKV.

  1. Kommissie:
    Dit geld vir die predikante en ampsdraers wat in hierdie verband die leiding neem, en ook vir elke lidmaat wat daarvoor stem om die Kerk te skeur. Lidmate en ampsdraers wat hierdie skeuring van die NHKA (by wyse van die skepping van "onafhanklike kerke") ondersteun, loop weg van die Hervormde Kerk en laat 'n Kerk agter wat treur oor elke lidmaat wat haar verlaat.

Dr Otto:
“Treur” deur te stel dat lidmate moet bedank?
 Waaroor word hier getreur, oor die lidmate of oor die eiendom en verlore inkomste?

  1.  Kommissie:
    Predikante en ampsdraers van die NHKA kan daarom nie wegbreekgemeentes bedien nie. Hulle breek dan weg omdat hulle nie dieselfde as die Hervormde Kerk glo nie! Die Hervormde Kerk glo dat Jesus Christus die Heer van die Kerk is wat deur verkose ampsdraers die Kerk regeer. In wese is die lidmate wat wegbreek se standpunt dus dat Christus nie die Hervormde Kerk regeer nie. Elke ampsdraer wat tydens die BAKV ernstig gebid het dat die Heilige Gees die Kerk moet lei om te doen wat reg is in sy oë, en trouens elke lidmaat van die Hervormde Kerk, word deur die wegbreekaksie tot ketter verklaar. Daardeur word die band wat ons bind verbreek, en daarom kan predikante en ampsdraers nie wegbreekgemeentes bedien nie.

Dr Otto:
Die BAKV het regter gespeel oor sy eie besluit. Hierdie manipulasie deur te verwys na gebed en die Gees se leiding, grens aan die oortreding van die derde gebod (Jy mag die naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie). ‘n Vorige keer wat besluit is dat ampsdraers nie sekere lidmate mag bedien nie, was tydens die Groot Trek. Dit is ironies dat juis die kerk wat aan die ontvangkant was van so ‘n besluit, nou self so ‘n besluit neem oor haar eie mense.

  1.  Kommissie:
    Persone wat hulle lidmaatskap van die NHKA opsê en lidmate word van 'n nuwe kerk, kan nie sonder meer met attestaat deur die ouderlingevergadering van 'n Hervormde gemeente as lidmate aanvaar word nie. Hervormde gemeentes kan ook nie aan lidmate wat na die nuwe kerk oorgaan, attestate uitreik nie.

Dr Otto:
Ons is terug by die aanmatigende houding. Die KommAKV kan nie oor lidmate besluit nie, en net die AKV kan riglyne gee.

12. Kommissie:
In die lig van die talle beskuldigings vanuit die kring van diegene wat van die Kerk af wegskeur dat die NHKA dwaal, is dit duidelik dat hulle nie net die kerkordelike band met die Hervormde Kerk verbreek nie, maar ook die geloofsbande wat ons gedeel het. Die klassieke Nagmaalformulier vermaan "almal wat skeuring in kerk… veroorsaak" om nie aan die Nagmaaltafel aan te sit nie. Die Kommissie vra daarom dat elkeen hom- of haarself deeglik sal ondersoek voordat hy of sy saam met die gemeente by die Nagmaaltafel gaan aansit.

Dr Otto:
Die 69e AKV het geloofsbande met ons voorgangers verbreek en die BAKV het vorige steun terug getrek. Die teologie van die NHKA is baie verder van die spoor as wat vermoed is, indien daar na die klassieke nagmaalformulier gegryp word om ‘n eie saak te ondersteun. Tydens die pasafgelope predikantevergadering is die loop-nagmaal bedien sonder dat enige formulier gebruik is. Dit is tog duidelik uit al die vorme van die nagmaalformulier (daar waar dit nog gelees word), asook uit ons hoofbron naamlik die Bybel, dat die fokus van die selfondersoek moet wees of die persoon steeds Christus se versoeningsdood aan die kruis in die oog het. Die wat nie kan bely dat dit die bloed en liggaam van Christus is nie, moet liewer wegbly. Hierdie moralistiese verstaan van die formulier is nie eie aan die Hervormde tradisie nie. Buitendien is dit die KommAKV wat sH lidmate beskuldig van kerkskeuring. Ons verstaan ons optrede nie so nie, ons sien dit as afsondering en eenkant bestaan sodat ons die suiwer leer kan behou. Die eenheid van die kerk is immers in die leer en nie in die struktuur nie.

13. Kommissie:
Ouderlingevergaderings word eweneens versoek om noukeurig opsig te hou oor die bediening van die sakrament van die Doop aan kinders van lidmate van ons Kerk. Lidmate behoort daaraan herinner te word dat hulle met hulle doopbelofte bevestig dat die leer van die Ou en Nuwe Testament wat in ons belydenis saamgevat is, "in die Kerk hier geleer word". Lidmate wat hulle kinders in die Hervormde Kerk laat doop, bevestig dus dat die evangelie in die Hervormde Kerk suiwer verkondig word, en verwerp die wegbrekers se aantygings van valse leer in ons Kerk.

Dr Otto:
Die fokus van die vraag is na die saak van leer van volkome verlossing. As bysaak word bevestig dat die kerk daardie leer verkondig. Die teks en die geleentheid se betekenis word oorspan. Daar is geen verwerping van valse of vreemde leer nie. Die KommAKV se oorspanning van die teologie rondom die doop spreek van ‘n kapstokbenadering wat selfregverdiging soek waar dit ten regte of onregte gesien word. Hierdie verstaan van die doop is skaamtelose manipulasie. Dit was nog altyd die gebruik om mense te vra of hulle gedoop is met water in die naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. Indien die antwoord “ja” is, is selfs die Roomse doop aanvaar. Nou is sH doop- bediening van die bose! Die steek in die term “wegbrekers” val op en maak seer, ja.

14. Kommissie:
2. Voortbestaan van gemeentes

Geen kerkraad, ouderlingevergadering of gemeentevergadering van die NHKA kan besluit om van die Kerk weg te breek (of "onafhanklik" te word) en dan nog oordeel dat hulle deel is van die NHKA nie. Die gebruik in die Kerk en die Kerkorde magtig geen vergadering om so 'n besluit te neem nie, en die besluit is daarom eenvoudig nietig – asof dit nooit geneem is nie. Dit beteken dat die betrokke gemeente van die Hervormde Kerk bly voortbestaan in die lidmate.

Dr Otto:
Hier het die KommAKV ‘n punt beet. Lidmate wat nie bedank het nie, bly lidmate van die NHKA en dit is tegnies so dat die NHKA gemeente voortbestaan. Dit is egter net deel van die prentjie. Hulle verstaan duidelik nie wat het gebeur nie. ‘n Paar sake moet duidelik gestel word.
• Dit was in die meeste gevalle ‘n vergadering van lidmate, buite enige amptelike vergadering van die gemeente of kerkraad, wat besluit het om onafhanklik aan te gaan.
• Die besluit is met ander woorde nie nietig nie.
• Die besluit is wel vreemd in terme van bestaande gebruike in die NHKA, dit maak nie die besluit ongeldig nie. Die AKV en die BAKV se besluite is baie vreemd aan die NHKA se etos en hulle word met gewetensdwang verskans.
• Lidmate van onafhanklike gemeentes het dubbele lidmaatskap, lidmaatskap van die onafhanklike kerk en lidmaatskap van die NHKA. Die doel is immers om die NHKA weer op die “gebaande weë van die NHKA” terug te kry.
• Lidmate wat nie met die besluit saamstem nie, het enkel lidmaatskap, maar het nie groter besluitnemingsbevoegdheid as die lidmate met dubbele lidmaatskap nie.
• Daar is geen landswet of ordereël teen dubbele lidmaatskap nie.


         15. Kommissie:
Al die ampsdraers en lidmate van die gemeente wat steeds lidmate van die Hervormde Kerk wil bly, gaan onder leiding van die gemeente se konsulent en/of ringskommissie voort om eredienste te hou en verkies waar nodig nuwe ampsdraers en funksionarisse. Hierdie lidmate en ampsdraers is die wettige voortsetting van die bestaande gemeente van die Hervormde Kerk, selfs waar 'n ander groep voormalige lidmate die kerkeiendom-me tans onregmatig beset en die bates van die gemeente gestroop het deur geheime bankrekenings te skep en/of die gemeente onregmatig in die skuld te dompel. Lidmate kan via die konsulent en/of ringskommissie inligting bekom oor die tyd en plek van eredienste, en kontakinligting van ouderlinge en diakens van die gemeente wat deel bly van die NHKA.

Dr Otto:
Die kwetsende laster in hierdie stuk maak inderdaad seer en het nogmaals ten doel om mense van mekaar te vervreem, eerder as om hulle tot versoening te bring. Die verwysings na eiendomme roep weer die vraag op na die eintlike motiewe van die KommAKV. Lidmate wat loop sonder eiendom, het net bedank en kan aan die verkleining van alle kerke toegeskryf word, maar lidmate wat loop met die eiendomme en bates wat hulle oor dekades voor gewerk het en versorg het, is skielik kerkskeurders wat onregmatig eiendom beset. Hierdie skaamtelose retoriek van die KommAKV staan as getuienis teen hulle. Die verwysing na onregmatig in die skuld dompel kan maar net verwys na die sogenaamde agterstallige heffingsgeld van sekere gemeentes; aangesien nog geen onafhanklike gemeente skuld aangegaan het nie. Intussen is daar gemeentes in Pretoria wat verbandskuld gemaak het met die pastorie as waarborg.......

Die pogings om alternatiewe eredienste te begin, het tot gevolg dat mense verder verdeel word en dat predikante se werklading skielik verdubbel word, net sodat die kerk steeds ‘n voet kan hê in die onafhanklike gemeentes se gebiede. Die lidmate kan dan as regspersoon voorgehou word en kan dan misbruik word in ‘n poging om die eiendom weer in die hande van die KommAKV se NHKA te kry. Dit word alles gedoen omdat daar steeds misplaasd gesteun word op die 1893 Trichardsfontein-saak. Die kwalik bedekte pogings van die KommAKV om eiendomme te bekom, sal deur die geskiedenis uitgewys word. Lidmate en die kerk word van hule geloof gestroop deur die vrysinnigheid en die KommAKV is bekommerd oor eiendom. Lidmate moet nie onder die illusie leef dat die KommAKV se grootste en eerste besorgdheid oor hulle is nie. Daar is genoeg gevalle wat uit die geskiedenis gehaal kan word, wat duidelik die teendeel wys, soveel seer van soveel gemeentes wat deure moes toemaak, eiendomme wat vervreem is en nadat heffings betaal is, die geld aan die naaste gemeente gegee is. Daar is soveel kerkgeboue wat nou moskees is, met lidmate wat elders heenkome moes vind. Pastorieë wat aan predikante geskenkis, Rome brand en die keiser tel skatte......

16. Kommissie:
Lidmate van die Hervormde Kerk wie se gemeentevergadering 'n besluit geneem het om "onafhanklik" te raak en van die Kerk weg te skeur, word versoek om nie langer eredienste in die "onafhanklike gemeente" by te woon nie, maar om met die konsulent van die gemeente of 'n ander predikant van die ring kontak te maak sodat hulle as die plaaslike gemeente kan voortgaan of andersins by 'n bestaande gemeente van die NHKA ingeskakel kan word.

Dr Otto:
Lidmate word van harte uitgenooi om die onafhanklike gemeentes se eredienste by te woon. Ons onderneem om op versoek u inligting aan die KommAKV en die betrokke ringskommissie deur te gee sodat u op hulle boeke kan verskyn. Intussen sal ons u sonder verwyt bedien van die Evangelie, en u mag steeds aan die tafel aansit, mits u kan onderskei dat dit die liggaam en bloed is van Jesus Christus, ons enigste Verlosser en Saligmaker.

          17. Kommissie:
3. Eiendomsreg van die plaaslike gemeente

Kerklike eiendomme behoort aan die plaaslike gemeente van die NHKA, en moet kragtens die Kerkorde (Ordinansie 4.4.2) met duidelike verwysing na die NHKA in die naam van die betrokke gemeente geregistreer wees. Daar rus 'n plig op elke gemeente om die eiendom van die Kerk te beskerm. Daardie eiendomme is betaal met die sweet van voorgeslagte en lidmate wat daarvoor gewerk het met die uitsluitlike doel om iets vir die Hervormde Kerk daar te stel. Enige gemeente wat hierdie beginsel minag, tree onregmatig op en in stryd met die oogmerk waarvoor die eiendom bekom is. Daar is geen twyfel dat enige lidmaat wat bygedra het tot die skepping van 'n bate vir die Hervormde Kerk, dit nie sou gedoen het nie as daar vir daardie lidmaat gesê is: "Jy dra by tot 'n eiendom wat 'n gemeente later eensydig van die Kerk kan vervreem". Die goeie trou tussen lidmate en gemeentes wat 'n beroep op alle lidmate doen om by te dra tot 'n boufonds of verbeteringsfonds, word deur hierdie soort optrede ondergrawe.

Dr Otto:
Hoeveel kerke is nou moskees? Hoeveel pastorië is nou in besit van ander mense of Kerke? Hoeveel pastorië is eensydig aan die predikant geskenk? Hierdie lyn van argumentasie wil steeds manipuleer, beheer en emosies aanjaag. Besluit die KommAKV watter optredes is onregmatig? Wat van gemeentes wat die kerkorde en die landswette tot die letter gevolg het en tog eiendom vervreem het? Het die KommAKV enige bydrae gelewer in terme van die arbeid wat in hierdie gemeentelike eiendomme ingaan? Enige onderhoud betaal? Iets anders gedoen as om as eregas te sit en bedien te word?

18. Kommissie:
Dit is belangrik om goed te verstaan wat hier gebeur. Lidmate van die Hervormde Kerk het besluit dat hulle van die Kerk gaan wegbreek. Met hierdie doel en geen ander nie, het hulle die eiendomme vervreem sodat hulle die eiendomme vir hulleself kon vat. Hulle het goed geweet dat die howe se standpunt is dat persone wat wegbreek, nie die eiendom kan saamneem nie. Al wat nou gebeur, is dat die eiendom gevat word voor die wegbreekaksie. Die oogmerk hiervan is niks anders nie as om die reg te omseil.

Dr Otto:
Hierdie bewerings is nie korrek nie. Wat hier “goed verstaan” moet word, is dat die KommAKV hulle verstaan van die optredes en gebeure as die gesaghebbende wil voorhou. Daar was aanvanklik geen gedagte van wegbreek nie. Reeds in 2010 is gemeentes aangemoedig om hulle eiendomme te beveilig teen restitusie eise. Dit is gedoen teen die agtergrond van 54/69. Dit is ook nie korrek om te stel dat dit “die howe se standpunt is dat persone wat wegbreek, nie die eiendom kan saamneem nie”. Daar is geen bewys vir hierdie bewering nie, tensy daar steeds verkeerdelik op die 1893 saak gesteun word. Dit is ook lasterlik om te beweer dat sH gemeentes die reg omseil. Slegs ‘n hof kan so ‘n bevinding maak. Kwetsende bewerings om sekere mense verdag te maak is nie sprekend van liefde nie.

19. Kommissie:
Die bates van die Kerk is vir 'n bepaalde doel bekom. Die Kommissie het geen ander keuse nie as om hierdie bates vir die Kerk te beskerm. Die Kommissie, in samewerking met die plaaslike lidmate en ringskommissie, sal daarom al die toepaslike stappe neem in elke geval waar dit bekend word dat individue of groepe eiendomme uit die Hervormde Kerk, vir wie dit daargestel is, vervreem.

Dr Otto:
Baie mooi woorde om inligting wat die rondte doen, te bevestig: Die KommAKV gaan lidmate en gemeentes gebruik/misbruik om hofsake aanhangig te maak. Kom ons stel dit weer; die KommAKV wat telkens beweer het dat gelowiges hulle nie wend tot die wêreldse howe nie, stel hier baie duidelik dat hulle na die wêreldse hof toe gaan. Die “toepaslike stappe” is om ‘n hofaansoek te bring. Vir hierdie hofaansoek gaan lidmate as ammunisie gebruik word. Die ringskommissie se samewerking sal uiters beperk wees; aangesien die ringskommissie nie ‘n regspersoon is nie. Nou maak dit sin; hou die gemeente in naam aan die gang en gebruik die lidmate wat agter bly, om hofsake deur te druk. Net een vraag; het die KommAKV sodanige mandaat? Kan die KommAKV so ‘n inisiatief neem sonder dat die AKV so besluit het? Die kerkorde dink nie so nie. Wat dink u? Moes die KommAKV nie eerder ingegryp het toe hulle gesmeek is vir gesprek nie?
Waar dit dus op watter manier ook al bekend word dat individue of groepe kerklike eiendomme uit die naam van die gemeente transporteer, word die plaaslike lidmate en ringskommissie versoek om dringend met die Sekretaris van die Kommissie van die AKV, dr Frikkie Labuschagne, kontak te maak. Inkwisisie hoofkwartier?

20. Kommissie:
4. Voortgesette betrokkenheid by kerklike strukture en diensorgane van die Kerk

Lidmate, ampsdraers en kerkrade wat deur geskrewe kennisgewing, mondelinge kommunikasie, of optrede en assosiasie hulle lidmaatskap van die NHKA opsê, kan nie langer betrokke wees by kerklike rade, komitees, werkgroepe of diensorgane soos die NHSV nie. Die besture van hierdie kerklike instansies word versoek om waar van toepassing die saak met individue op te neem.

Dr Otto:
Die NHSV hoofbestuur het tydens hulle vergadering van 20 Oktober 2012 eenparig besluit dat die dames van onafhanklike gemeentes welkom is om steeds deel van die kosbare dienswerk te wees. Nie die AKV nie, maar die KommAKV skryf nou voor aan die NHSV. Verduidelik u nou asseblief aan die mense in ons ouetehuise waarom ten minste 10 gemeentes se dames se barmhartigheidsgeld en harde werk en omgee-aksies nou verwerp word. Verduidelik aan die kinders in die DPS-huise dat die tannies wat al ‘n lang pad saam met hulle geloop het, nou skielik melaats is. Ek het nie die hart om dit te doen nie.

21. Kommissie:
5. Ampsdraers wat bedank of uit die amp onthef word

Predikante wat bedank het of uit die amp onthef is, verloor hulle ampsvoorregte met onmiddellike effek. So 'n persoon kan nie langer aanspraak maak op die titel en status van predikant nie – nie in die Hervormde Kerk nie, nie in enige van ons susterskerke nie, en ook nie in die gemeenskap nie. Hulle gee hulle reg op traktement, bydraes tot mediese fonds en pensioen prys, en moet die gemeente se pastorie ontruim.

Dr Otto:
Probeer hulle deur hierdie bewering ‘n besluit neem en af forseer op die gemeentes wat hulle predikante genooi het om hulle steeds te bedien? Skryf hul aan die gemeenskap voor dat die persoon wat so waardig steeds die evangelie verkondig en mense bedien, op grond van ‘’n besluit van die KommAKV “nie langer aanspraak kan maak op die titel en status van predikant nie”?

22. Kommissie:
Kerkrade en ringskommissies kan hulle nie toelaat om voort te gaan met prediking, sakramentsbediening of enige ander ampswerk nie, en moet in oorleg met die konsulent en ringskommissie alternatiewe reëlings tref vir die voortsetting van die dienswerk in die gemeente. Kerkrade en ringskommissies kan ook nie voormalige predikante wat bedank het of uit die amp gesit is, nooi om kerklike vergaderings in die gemeente of ring toe te spreek nie. Huwelike wat deur voormalige predikante van die Kerk bevestig word, mag onder bepaalde omstandighede ongeldig wees, en lidmate moet baie versigtig wees in hierdie verband.

Dr Otto:
Die Ouderlinge besluit wie mag preek, vergaderings toespreek en die sakramente bedien, die KommAKV kan nie voorskryf nie. Die dokument se titel “Riglyne” is duidelik ook misleidend, want hier is voorskrifte. Mag ‘n Moslem die AKV toespreek oor banksake, maar ‘n gelowige sH predikant mag nie die plaaslike kerkraad toespreek nie? Die verwysing na huwelike is misleidend. Die voorreg om mense in die eg te verbind, is ‘n toegewing van staatsweë wat aan ampsdraers van kerke gegun word. Om van ‘n NHKA ampsdraer te beweeg na ‘n ampsdraer van ‘n onafhanklike kerk, beteken slegs dat die vergunning langs ‘n ander weg steeds gehandhaaf word. Onafhanklike predikante het reeds aansoek gesoen vir die relevante oorplasing.

23. Kommissie:
n Kerkraad en/of ouderlingevergadering kan nie 'n persoon wat as predikant bedank het of onthef is, toelaat om in hulle midde soos 'n predikant met ampswerk voort te gaan nie. Daar word 'n beroep op die samewerking van alle vergaderings van die ampte gedoen, en enige persoon wat onsekerheid het oor die hantering van hierdie aangeleenthede, moet asseblief onmiddellik met die Sekretaris van die Kommissie, dr Frikkie Labuschagne, in aanraking kom.

Dr Otto:
Hierdie voorskriftelikheid is verstommend. Heksejag, inkwisisie in die 21e eeu. Waar is die liefde? Is dit hoe Hervormers nou werk? Is dit hoe probleme opgelos word deur predikante uit die weg te probeer ruim? Twee jaar se pogings tot gesprek en oproepe tot besinning is ignoreer en onder die mat gevee. Die woorde van “deernis” stuit voor die hartvogtige inhoud van die brief. Is dit hoe mens jouself skuldig maak aan huigelary?

24. Kommissie;
n Kerkraad wat alle kontak met die ringskommissie en Kommissie van die AKV verbreek en op geen korrespondensie reageer nie, moet asseblief mooi daaroor besin. Dit is nie soos Hervormers werk nie. Kom ons hanteer liewer die probleem en probeer dit uit die weg ruim. Dit is tog hoe Christene met mekaar werk – ons ignoreer nie mekaar nie.

Dr Otto:
Skynbaar mag ons darem mekaar eensydig uittrap en verban. Skynbaar mag die KommAKV geen reaksie toon op ‘n stroom onbeantwoorde briewe nie, maar lidmate moet in allerhaas reageer op skrywes.

25.       Kommissie:
Die Kommissie is terdeë bewus van die sensitiewe en gespanne situasies in sommige gemeentes en ringe van die Kerk. Ringskommissies, kerkrade, ouderlingevergaderings en diakonale diensorgane word versoek om volgens die voorafgaande riglyne en met liefde in broederlike gesprek te tree met lidmate en ampsdraers indien dit nodig is. Dit is tog wat ons belydenisse van ons eis
.

Dr Otto:
Hierdie brief spreek van ‘n ander gesindheid as die mooi woorde wat voorgesit word. Skynbaar is die gedagte dat lidmate tot oorgawe gelei moet word en dan as “bekeerlinge” met ope arms ontvang moet word. Eis die Bybel en die belydenisse nie dat ons moet glo nie?

26. Kommissie:
Die Kommissie is ook pynlik bewus van die persoonlike hartseer en spanning wat lidmate en ampsdraers van die Kerk ervaar as gevolg van die tragiese gebeure wat hulle tans in die Kerk afspeel. Lidmate in ons gemeentes word versoek om mekaar te ondersteun en na mekaar uit te reik aangesien almal – die predikant, sy vrou/haar man en hulle kinders, maar ook lidmate hierdie gebeure uiters spanningsvol en traumaties beleef en mekaar se ondersteuning en liefde nou baie nodig het.
Die Kommissie verstaan dat wanvoorstellings en manipulasie van die ware feite lidmate verwar, en wil nie die deur sluit vir enige lidmate of ampsdraers om na die Hervormde Kerk terug te keer nie. Daarom versoek die Kommissie ouderlingevergaderings en ringsvergaderings om lidmate en ampsdraers wat na die NHKA wil terugkeer, deurgaans met groot deernis te hanteer.

Dr Otto:
Aan die een kant word lidmaatskap opgehef en mense vertel hulle kan nie nagmaal gebruik nie, hulle word oneerlik genoem en die bron van alle kwaad, en aan die ander kant word die deur metafories oopgehou en word almal geroep tot deernis. Maar onthou, net deernis met hulle wat “terugkom”, die res moet vermy en teengewerk en beswadder word. Die res moet weet daar is hofsake vanuit die NHKA in proses.

Mag die Here van die kerk ons almal in hierdie tyd deur sy Gees lei en bewaar!