Openings oordenking

Geliefdes in ons Here Jesus Christus

Johannes 21:17.  Die gedeelte wat ons gelees het,  vertel van Jesus se laaste optredes voordat Hy sou opvaar na die hemel.  Hy bewerkstellig vrede in Petrus se hart.  Jesus het aan die einde van sy bediening op aarde gekom.  Hy het sonde en die dood oorwin.  Dit sou nou die taak van die apostels wees om die boodskap van hoop en bevryding verder te gaan verkondig. 

 

Twee sake is opvallend in die gedeelte wat ons gelees het.  Die een is Jesus se deeglike versoening met Petrus en die tweede is Jesus se gerigtheid op die persoon voor Hom.  Petrus het rede gehad om skaam voor Jesus te staan.  Hy was bereid om met die swaard ‘n slaaf se oor af te slaan,  maar het gevlug voor die ondersoekende blik van ‘n diensmeisie.  Dit is nie asof Jesus hom nie gewaarsku het nie,  in  Lukas 22 lees ons:  Petrus sê vir Hom: "Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan." Maar Hy antwoord: "Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”  Deeglik gewaarsku gebeur dit toe net soos Jesus gewaarsku het.   Luk 22:60 Maar Petrus sê: "Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!" En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar ‘n haan gekraai.  Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: "Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën."   En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Na die opstanding maak Jesus ‘n punt daarvan om Petrus te toets en drie keer te vra na sy lojaliteit.  Drie keer het Petrus vir Jesus verraai,  drie keer sou Petrus die geleentheid kry om te sê:  Ja Here,  ek het U lief.  Jesus maak seker dat die mens met sy skuldgevoelens in dieselfde maat boete doen.  Drie keer ja en dan drie keer die opdrag om te sorg vir die gelowiges.  Hierdie is die deernis van God,  die deernis van Jesus.  Hy bewerk volkome versoening tussen God en mens,  en gee dan die opdrag tot evangeliebediening.  Petrus is vergewe, van skuld bevry en kan as heel mens ander na die Here lei.  Hy sou later as martelaar sterf. 

Die tweede saak wat ons moet raaksien,  is dat Jesus bemoeienis maak met die mens daar voor hom.  Vir die grootste gedeelte van Jesus se tyd op aarde was sy aandag gerig op die skares en die groepe.  Jesus vra in Matteus 16:15 "Maar julle," het Hy gevra, "wie, sê julle, is Ek?"  Na die opstanding verander hierdie ingesteldheid van Christus.  Jesus verskyn aan die dissipels,  maar praat spesifiek met ongelowige Tomas en roep hom tot geloof.  Later praat Hy met Petrus en gee spesifiek aan hom opdragte.  Petrus wil nog vra “Wat van hom?”  met verwysing na Johannes,  maar Jesus se antwoord is,  “Vergeet van hom,  volg jy my.”  Jesus verskyn ook aan Stephanus wanneer hy gestenig word.  Net so het hy verskyn aan die fanatiese vervolger,  Saulus,  en hom persoonlik geroep tot diens. 

Ons staan vandag steeds daar.  Jesus roep elkeen van ons by die naam.  Soos die goeie herder,  ken hy elkeen by die naam.  Aan die einde van tyd sal hy aan elkeen van ons,  persoonlik,  ‘n klippie met ‘n nuwe naam gee.  Ons is so lief vir die skares,  die groepe.  Dit bied aan ons die geleentheid om te verdwyn,  verantwoordelikhede te abdikeer, net om te volg  Jesus kom staan voor elkeen van ons en vra aan elkeen van ons,  vir jou en vir my:  “Het jy my lief?”  Hy doen dit so dikwels as wat ons afwyk en elke keer ontvang ons opnuut die opdrag.  VOLG JY MY.

Amen