Kerklidmaatskap beteken verder : dat ek tot Christus se beskikking is .

Lees : Efesiers 4

Dit is een ding om aan iets te behoort , maar ‘n ander saak om beskikbaar te wees vir diens .

Daar is talle organisasies met ellelange ledelyste , maar baie min lede is werklik beskikbaar .Dit is ongelukkig ook waar van die kerk .Die lidmate is daar , maar as die Koning van die kerk hulle oproep tot diens , dan het hulle baie verskonings waarom hulle nie beskikbaar is nie .

Dit is ‘n tragiese situasie , want na sy wese is die kerk dan juis ‘n groep mense wat aan die Here Jesus Christus behoort en dus uitsluitlik tot sy beskikking behoort te wees .

As ons bely dat ons aan ‘n heilige kerk behoort , verklaar ons daarmee dat , naas die unieke status wat ons ontvang het as heiliges in Christus , ons ook beskikbaar is . Die woord “ heilig “ beteken immers o.a. ook “ afgesonder “ , “ eenkant geplaas “ , “ tot beskikking van “ .

Die tweede betekenis van lidmaatskap hang dus ten nouste saam met die eerste : Omdat ek aan die Here Jesus Christus behoort , daarom is ek ook beskikbaar .

Kom ons vra vir mekaar : “ Is dit wat kerklidmaatskap vir jou beteken ? “ .

Die tragiese is dat die kerk oor ‘n enorme leërmag van diensknegte en diensmaagde beskik , maar dat die wa deur ‘n klein groepie deur die drif getrek moet word . Die res is blote toeskouers en pawiljoensitters en as die kerk in die naam en op gesag van Here , die Koning van die kerk Jesus Christus , hulle wil inskakel in sy omvangryke diens , dan is hierdie mense net nie beskikbaar nie !

Jou woorde moet ook tot dade oorgaan . Jy moet deur jou betrokkenheid help om alles in die gemeente waar jy ingeskakel is volt te laat verloop .