Die skande van Naboomspruit

Tydens verlede jaar se Ringsvergadering van die Ring van Waterberg, is dr. Hennie Botes (Naboomspruit) tot voorsitter verkies en ds. Chris Liebenberg (Nylstroom) as skriba. Omdat daar geen ander predikante in die ring is nie, kon sekundi lede nie verkies word nie.

Sondag daag die “ringskommissie” ongenooid by die gemeentevergadering van Naboom op, nadat die gemeenteskriba, oudl Nicus Prinsloo, die vorige middag bekend gemaak het dat die ringskriba laat weet het dat hulle die gemeentevergadering die volgende dag gaan kom bywoon.


Die afvaardiging word gelei deur ds. Marius Bacon, nuwe predikant van Warmbad, wat maar drie maande in die ring is. (Ds. Bacon het aan die voorpunt gestaan van die a la carte-nagmaal en ander goggas tydens die laaste predikantevergadering.) Hy word vergesel van die ringskriba, ds. Liebenberg, en die drie ouderlingslede van die ringskommissie, oudle. Piet Pretorius (Rust der Winter), Andries de Beer (Warmbad) en Fanie van Zyl (Waterberg/Nylstroom).

Dit blyk toe dat daar ‘n afsonderlike vergadering gehou is waar al die lede van die ringskommissie teenwoordig was, sonder die medewete of teenwoordigheid van die wettig verkose voorsitter, dr. Botes. By dié geleentheid is skynbaar besluit dat ds. Bacon gekoöpteer word as sekunduslid vir die voorsitter, dr. Botes, en ook as voorsitter van die afvaardiging sal optree tydens die (ongenooide) besoek aan Naboomspruit.

Volgens gemeentelede wat by die gemeentevergadering teenwoordig was, het ds. Bacon glo op 'n aggressiewe wyse, wat die amp nie waardig is nie, aangedring op 'n onbeperkte spreekbeurt. Die gevolg van sy optrede was, volgens die waarnemers, was weersin en verdeelheid in die gemeente. Uiteindelik het die oorgrote meerderheid van die ongeveer twee honderd gemeentelede wat die vergadering bygewoon het, uit protes teen die optrede van ds. Bacon, die vergadering verlaat en het net ‘n handjievol gemeentelede saam met die “afvaardiging” van die “ringskommissie”agtergebly.

Van dr. Botes word getuig dat hy deurgaans beleefd, waardig, kalm, professioneel en tegemoetkomend opgetree het, en aan die afvaardiging by herhaling gestel het dat hulle optrede onkerkordelik is.

DIE VRAE WAT ONWILLEKEURIG BY ‘N MENS OPKOM, is:

1. Wie het di Bacon en Liebenberg en die drie ringsouderlinge geadviseer en gepor om hierdie onkerkordelike weg te volg rondom die agteraf vergadering en die ontstigting van die gemeente-vergadering?
2. Nou dat hierdie onkerkordelike kerklike samespanning openbare kennis is, is daar groot afwagting om te sien of die Kommissie van die AKV die lede van die “afvaardiging” onder die opsig vir gesprek gaan oproep? Hulle doen dit buitendien deesdae op blote gerugte. Indien hulle verklaar dat hulle slegs kan optree indien daar ‘n formele klag teen die broeders gelê word, of dat hulle kwansuis onder ‘n hofbevel sou staan wat hulle verbied om teen enige predikant onder die opsig en tug op te tree, sal dit duidelik wees dat hulle dié optrede goedkeur en selfs die indruk van aandadigheid kan skep. Dan sal hulle leuse van “in die voetspore van Jesus” ‘n klinkende metaal en luidende simbaal geword het.

Sê Jesus nie sélf: “Aan hulle vrugte sal hulle geken word” nie?