Reaksie op 12 April 2013 omsendbrief

Dit is nie altyd gerade om op alles te reageer nie en dit is belangrik om altyd ‘n wag voor die mond te hou.  Die ironiese propaganda vervat in die nuutste e-Hervormer wat sommer nog die volgende dag amptelike omsendskrywe-status bereik het,  kan egter nie sonder kommentaar verbygaan nie.  Ons het met uiterste skok en verbasing die amptelike dokument gelees.  Die lasterdans van sekere mense herinner aan die leeu-tart deur die tralies.  Die volgende twee opmerkings moet beantwoord word en ons doen dit sonder om uitgebreid te wil reageer.

  1. “Die verwagting is dat die komende ringsvergaderings nie steriele verslagvergaderings sal wees nie,  maar kosbare geleenthede om na te dink oor die beste manier waarop gemeentes en gelowiges in hul unieke omgewings kreatief uitvoering kan gee aan die roeping van die Heer van die kerk,  Jesus Christus. Konstruktiewe beskrywingspunte vanuit die ringsvergaderings kan rigting gee aan  debatte en besluite op die AKV, en so help om die koers vir die Hervormde Kerk aan te dui.  Terselfdertyd word die kerklike gesprek ook buite vergaderings van die ampte gevoer sodat elke lidmaat daarvan kennis kan neem en ook self kan deelneem. Die kerklike publikasies, veral Die Hervormer en die Tydskrif vir Hervormde Teologie (THT), sal in die komende maande vir hierdie gesprek ruimte skep. Dit gaan hand aan hand met teologiese tafelgesprekke en openbare lesings van die Hervormde Teologiese Kollege (HTK), waarvan deurlopend kennis gegee sal word. Op 19 April vind ’n oop gesprek oor die Kerk se teologiese opleiding plaas,  en op 12 Junie ’n openbare lesing oor ons Skrifbeskouing.” Dr W van Wyk e-Hervormer 11April 2013
  2. “Die Moderamen het met skok en teleurstelling kennis geneem van ’n oproep aan  sogenaamde “sH gemeentes wat nie onafhanklik gaan word nie maar na die 70e AKV toe gaan” en “individue wat graag sekere sake aanhangig wil maak” om ’n beplanningsvergadering by te woon wat “uitsluitlik ten doel [het] om die sake van belang in beskrywingspunte te verwoord”. Die byeenkoms vind boonop plaas onder die leiding van iemand wat op omstrede manier as predikant en lidmaat van die Hervormde Kerk bedank het en as sodanig niks met die Hervormde Kerk of die AKV te doen het nie. So ’n georkestreerde byeenkoms van ’n drukgroep wat uitdruklik wil poog om die verloop en uitkoms van die AKV te beïnvloed, is lynreg in stryd met die kerklike vertrekpunt dat ’n vergadering van die ampte besluite biddend onder leiding van die Woord en Gees neem na oorweging van al die inligting tot beskikking van die vergadering. Dit is ten diepste net so ’n onkerklike manier om die vergadering te manipuleer as om vooraf lysies van kandidate vir verkiesing tot die Kommissie van die AKV op te stel en te sirkuleer. Die Moderamen doen ’n ernstige beroep op alle lidmate en ampsdraers om op geen wyse aan sulke onkerklike optrede deel te hê nie.”  e-Hervormer 11April 2013

 

Die dubbele standaarde wat duidelik blyk,  is skreiend.  Aan die een kant moedig dr Wouter van Wyk lidmate aan om by sekere forums te gaan praat en dink oor die toekoms/nuwe rigting van die NHKA en dan selfs beskrywingspunte te formuleer.  Die noodsaak van diepe nadenke en deelnemende denke deur elke lidmaat word bepleit.  Die Colloqium van 2006 is deel van die NHKA se onlangse skaam-geskiedenis.  Wat was dit anders as ‘n Kommissie geskepte geleentheid om lidmate se denke in ‘n voorafbeplande rigting te stuur?  Nou word ‘n sH inisiatief kwaadwillig verkondig as ‘n georkestreerde poging deur ‘n drukgroep!

Amptelike vergaderings se biddende goedertrou word heilig voorgehou as diepe oorweging van alle inligting wat maak vir “Pouslike”  kanonieke besluite.   Dit is die propagandabeeld wat voorgehou word.  Iemand probeer die indruk laat dat hierdie mense ten diepste dink en gee voor dat dit slegs onder hulle gebed is dat die Heilige Gees leiding kom gee (hoe mensgerig/arrogant!) en dat enige persoon of aksie buite die struktuur om heen,  gedoem is tot geeslose rondtasting.  Soveel vir die sogenaamde evangelie van inklusiwiteit. 

Die sH inisiatief word deur die Moderamen vergelyk met die opstel van lysies vir die werf van stemme vir die Kommissie.  Ons  herinner ons aan die hartseer ironie waarmee wyle dr Johan Steenkamp vertel het hoedat hy vroeg in 2004 genader is om ‘n vertroulike beplanning-  en besprekingsvergadering met die oog op die 67e AKV aan huis van dr Wouter van Wyk by te woon.  Hy het gelag en gestel dat die  verleë saakgelastigde wat hom geskakel het,  hom duidelik met iemand anders verwar het.  Geheime vergaderings met geheime planne en lysies was ongelukkig lankal   deel van die NHKA,  selfs al is dit nie regverdigbaar nie.  Daarteenoor,  die steedsHervormers byeenkoms van 13 April is openlik bekend gestel en het ‘n ope uitnodiging,  daar was niks geheim daaromtrent nie.

Op  persoonlike vlak  is dit goed om te sien dat die Moderamen eindelik erken dat talle Onafhanklike predikante op omstrede manier forseer is om te bedank as werknemers van die NHKA.  Die viktimisasie,  verguising en onkerkordelike heksejag is diep in ons emosionele geheue ingebrand.  Gaan die Moderamen nou die eerbare ding doen om hierdie predikante om verskoning te vra en hulle uitnooi om terug te keer na die NHKA?  As hulle enige geloofwaardigheid het,  het hulle nie ‘n keuse nie.  Hoe opreg dit sal wees,  is ‘n ander vraag.

In die tussentyd sal die vergadering van D.V. 13 April 2013 voortgaan.  Daar is geen sprake van geheimhouding of lysies nie,  net ‘n eerlike geleentheid om saam te dink,  dit is immers deur ons self gepubliseer en wyd bekend gemaak.  Hierdie poging is in lyn met al die sH pogings om  openlik,  eerlik en opreg op te tree en in gesprek te tree.  Blykbaar is selfdink en anders dink ‘n oersonde in die voorskriftelike NHKA.  Behoudende lidmate en ampsdraers het die reg om pro-aktief op te tree en te poog om die NHKA weer op die regte spoor te kry.  “Al die inligting” sluit tog sekerlik die sH perspektief in?  Die vraag is nou na die durf van sH lidmate.  Die dekreet deur die Moderamen dat hierdie byeenkoms op onkerkordelike optrede neerkom,  is weer eens ‘n fantasievlug van alle waarheid ontbloot.  Die lasterlike insinuasie dat hierdie ‘n aanslag op die 70e AKV is,  is geen Christen waardig nieWaar is die regspraak wat hierdie bewering staaf?  Waar is die bewyse dat hierdie poging kwade bedoelings het?  Gaan die beroep van die Moderamen maak dat daar net een of twee persone opdaag,  of juis meer?  Tyd sal leer.