Bondsverklaring 26 Januarie 2013

Saterdag 26 Januarie 2013 sal altyd bekend staan as die dag waarop die Bond van onafhanklike Hervormde kerke tot stand gekom het. Die byeenkoms van steedsHervormers wat te Meyerspark plaasgevind het, was ‘n uiters geslaagde geleentheid. Aan God al die eer.

 Die fasiliteite was doelgerig ingerig, die lokale keurig voorberei en die administrasie foutloos. 72 Persone was afgevaardig, met ‘n ope uitnodiging aan ander om die vergadering by te woon. Enige persoon wat sou twyfel oor die momentum van die beweging, moet kennis neem dat meer as 200 persone geregistreer het. Die byeenkoms is uitstekend ondersteun.

Nadat dr Storm ‘n studiestuk (deur Professor Pont en homself geskryf), aangebied het, het die vergadering in debat getree, met ‘n ope uitnodiging aan almal om deel te neem. Die debat het met tye gespanne verloop, met tye was gemoedere onstuimig. Dit het niemand verhoed om met vrymoedigheid en eerlikheid eie oortuiging te lug nie. Na deeglike besinning het die volgende resultate gekristalliseer.

  • Die Onafhanklike/Selfstandige gemeentes teenwoordig, het ‘n bond van Onafhanklike gemeentes gestig met ‘n ope uitnodiging aan ander Onafhanklike/ Selfstandige gemeentes om aan te sluit. Die besluit is eenparig geneem.
  • Die Bond het as komitee benoem; die ampsdraers en lidmate van Onafhanklike gemeentes wat op die steedsHervormers komitee dien. Die besluit is eenparig geneem.
  • Die eerste vergadering van die nuut gestigde Bond sal plaasvind sodra alle relevante studiestukke beskikbaar gestel en deur gemeentes verwerk is. Die verkose komitee sal die reëlings tref.
  • Die steedsHervormers het eenparig gestem vir ‘n verruiming van hulle selfverstaan. Waar die drukgroep voorheen gerig was op spesifiek lidmate, en in afgeleide sin NHKA-lidmate en gemeentes, het die vergadering besluit om hulle selfverstaan so te verruim dat Onafhanklike gemeentes amptelik deel van die Konfessionele bond van steedsHervormers kan wees.
  • Die komitee is onbestrede herkies en hernoem tot die Koördineringskomitee.
  • Die vergadering het verdeel in verskillende komitees wat sake van belang sou bespreek met die oog op die opstel van studiestukke vir die eerste vergadering van die Bond van Onafhanklike kerke.
  • Die Bond van Onafhanklike Hervormde kerke sal tydens hul eerste vergadering besluit oor teologiese opleiding, ‘n naam, embleem en ander sake. Daar is reeds konsensus oor teologiese sake.