Protes

Onderhoud met Ds Frans Oosthuizen

DONDERDAG 24 JANUARIE 2013

HOE LANK FUNKSIONEER JULLE AL AS ONAFHANKLIKE GEMEENTE EN HOEVEEL LIDMATE IS JULLE?
Ons Gemeente het verlede jaar Oktobermaand as onafhanklike gemeente begin funksioneer. Al ons gemeentelike gesprekke wat oor die krisis in die NHKA gevoer is, was kalm en bedaard, maar gesprekke met ‘n vasberadenheid oor ons standpunt. Alle besluite wat geneem is deur die onderskeie vergaderings was eenparige besluite met geen teenstemme nie.



Alhoewel ons plaaslik die oudste, en boonop ‘n middedorpse gemeente is, het die gemiddelde ouderdom van ons lidmaattal die afgelope jare verjong. Huidig is die gemiddelde ouderdom 37 jaar. Ons is dus, ouderdomsgewys, ‘n relatiewe jong gemeente. Dit is vir my persoonlik bemoedigend dat veral die jonger komponent van ons gemeente dit so eens met ons standpunt is. Ons bestaan uit 366 belydende lidmate en 107 kinders.

MENSE KEN JOU AS ‘N KALM EN BEREDENEERDE MENS. DIE SKIELIKE BESLUIT VAN JULLE GEMEENTE KOM AS IETWAT VAN ‘N SKOK. BOONOP IS PIETERSBURG EEN VAN DIE OUDSTE HERVORMDE GEMEENTES (1852) IN DIE LAND. WAT HET DAARTOE AANLEIDING GEGEE?
Daar is twee momente wat die Ouderlingevergadering, gevolg deur die Gemeentevergadering, tot die stap laat oorgaan het. Die eerste is die onwrikbare en vyandige houding wat die Kommissie van die AKV via sy woordvoeders, met sy besluite en herderlike skrywes, ingeneem het. Dit teen lidmate en ampsdraers wat staan by Ordereël 1 van die Kerkorde. Die laaste spyker in die doodskis was die besoek van twee professore in September verlede jaar aan ‘n naburige gemeente. Van ons lidmate en kerkraadslede het die gesprek met die twee professore bygewoon. Die teologiese debat wat met hulle gevoer is, het hulle omseil en met die holruggeryde argument vorendag gekom dat die steedsHervormers net met politiek besig is. Kort na die gesprek het dit ook aan die lig gekom dat een van die professore sake aan die vergadering as die waarheid voorgehou het wat bloot net nie die waarheid was nie. Met daardie gesprek het die damwal meegegee en was die finale besluit van ons gemeente om van die NHKA te onttrek, feitlik net ‘n formaliteit.

NA DIE AFSTERWE VAN DR STEENKAMP HET JY OP DIE KOMITEE VAN STEEDSHERVORMERS BEGIN DIEN. WAT IS JOU INDRUKKE VAN DIE BAKV EN DIE KONTAK WAT JY DIREK EN INDIREK MET DIE KOMMISSIE GEHAD HET?
Teleurstellend. Dit was vir my duidelik dat met die beswaarskrif op tone getrap is. Sagkens en onderlangs is op die eerste dag van die BAKV deur sprekers, wat nie deel van die beswaarde groep was nie, hulle eie ongemak met Besluit 54 uitgespreek. Aan die einde van die eerste dag was ek feitlik daarvan oortuig dat die besware teen Besluit 54 gehoor is. Op die tweede dag is daar egter bulderend die roede onder die beswaarmakers ingelê. Ons is skielik begin dreig met dissiplinêre stappe, en die verwyt van die finansiële koste van die vergadering is voor ons deur gelê. Dit terwyl ons beswaardes ons baie duidelik uitgespreek het téén die hou van ‘n BAKV. Myns insiens het die kerkleiding die Kerk in ‘n rigting begin manupileer. Dit ondermeer deur inligting van lidmate te weerhou, en ‘n diktoriale bestuurstyl. Die protestantse kerkreg ken geen bestuur in dié sin van die woord nie, wat staan nog ‘n diktatorskap.

JY WAS OOK IN SAMESPREKINGS BETROKKE MET TWEE ADMINISTRATIEWE AMPTENARE VAN DIE KERKKANTOOR. WIL JY VIR ONS MEER DAARVAN VERTEL?
Dit was ‘n veronderstel om ‘n vertroulike gesprek te wees. Die vertroulikheid daarvan het ek gerespekteer en nie eens my kollegas op die komitee van die steedsHervormers daarvan gesê, of hulle oor die afloop van die gesprek ingelig nie. Later sou ‘n predikant in ons ring, wat boonop nie met steedsHervormers assosieer nie, my na die gesprek verwys. Dit wat ‘n vertroulike gesprek moes wees, is geminag. Nodeloos om te sê dat die twee amptenare my in ‘n baie groot verleentheid geplaas het – ook my vriend wat saam met my die gesprek bygewoon het. Gelukkig het my kollegas my bona fides oor die aangeleentheid aanvaar.

JY IS EEN VAN DIE MIN PREDIKANTE IN DIE KERK WAT DIE GELEENTHEID GEHAD HET OM BY TWEE OPENBARE GESPREKKE MET TEOLOGIESE DOSENTE EN DIE VOORSITTER VAN DIE KOMMISSIE BETROKKE TE KON WEES. VERTEL ONS MEER DAARVAN?
Die inhoud van my deelname aan die gesprek met die dosente is redelik bekend. Die gesprek met die voorsitter van die Kommissie verlede jaar by ‘n ringsgemeente, het die wind uit my seile gehad. Hy het oor presies dieselfde goed in die Kerk gekla as ons steedsHervormers. Soveel so, dat selfs die ouderling-voorsitter aan die einde van daardie vergadering opgemerk het dat hy die afleiding maak dat die voorsitter van die Kommissie klaarblyklik nie baie kwaad gaan wees as hulle gemeente ook sou besluit om onafhanklik te gaan nie.

HOEKOM SIT DIE HERVORMDE KERK MET AL DIE PROBLEME WAT HY HET, EN HOE SIEN JY SY TOEKOMS?
Die NHKA het deur sy stilswye en nalate ‘n valse teologie toegelaat om in sy midde soos ‘n kanker te begin versprei. Wanneer ‘n kerk stilswyend toelaat dat Jesus Christus verdring word met ‘n “wyse en liefdevolle jesus van galilea”, het dié kerk nie net ‘n probleem of probleme nie, dan is dit eenvoudig net nie meer ‘n kerk nie.

Die Kommissie van die AKV beskerm, ten koste van alles, die “teoloë” in die Kerk wat hierdie valse teologie bedryf - om redes net aan die Kommissie alleen bekend. Die Kommissie stuur herderlike skrywes aan gemeentes, ampsdraers, amptelike vergaderings en lidmate uit wat alles wat in die Kerk verkeerd is, in ‘n stofwolk van dreigemente verberg. Die volle waarheid van alles word verswyg. Die wat deur die stofwolk sien, het, en is besig, om die Kerk te verlaat. Die vraag is wat gaan gebeur as die kragte om die stofwolk in stand te hou, meegee? Die NHKA, by monde van haar Kommissie, het die steedsHervormers as ‘n gerieflike strooipop opgestel om pap te slaan. Die NHKA se probleem is egter nie die steedsHervormers nie, maar die toegelate vrysinnigheid in haar geloof en teologie.

OP WATTER UITDAGINGS MOET GEMEENTES WAT OORWEEG OM VOORLOPIG ONAFHANKLIK TE WORD HULLE VOORBEREI?
Dit wat ‘n mens as uitdagings sou kon beskryf, hang eintlik van niks anders af as jou eie christelike oortuigings nie: Christelike oortuigings gevoed deur die Bybel as Woord van God. Gemeente Pietersburg is in die bevoorregte posisie dat die meerderheid van ons omringende gemeentes en ampsdraers (nie net Hervormers nie), simpatie met ons stap het. Wat ons egter nie ontkom het nie, was doodgewone skinderstories – skinderstories wyd en syd versprei deur die NHKA se facebook-werf, en ‘n paar plaaslike individue. Aan skinderstories steur ‘n mens jou egter nie.

WAT IS DIE LEKKER VAN ONAFHANKLIKE GEMEENTE TE WEES?
In die eerste plek is ‘n mens nie meer deel van ‘n leuen nie. Dit voel of jy – in ‘n reformatoriese sin – tot bekering gekom het. Daarna, is dit ‘n ongelooflike gevoel van bevryding. Dit is asof daar ‘n ander gees in die gemeente teenwoordig is. Dit is ‘n wonderlike gevoel om op ‘n Sondagoggend in die konsistorie in te stap en almal lag en gesels - soos amper nie te vore nie. Baie meer mense kuier na eredienste saam. Ons lidmaattal het verhoog. En mag dit vergewe word – ons gemeente se finansiële inkomste het substansieel begin groei.

MEER OOR DS OOSTHUIZEN
Ds Oosthuizen is predikant sedert 1985. Sy eggenote, ds Elmien, ‘n polisiekapelaan, is ook aktief betrokke by die stryd om die beskerming van die evangelie en dien as groot inspirasie en ondersteuning vir hom. Pietersburg se kerkgebou is op die hoek van Biccard en Thabo Mbekistrate, Pietersburg. Hulle kantoornommer is 015 295-7792.