Protes

Klag teen Ds GJM Wolmarans

Geagte dominee, ouderling, diaken en lidmaat van die NHKA
 
Op bl. 161 van die agenda van die 70ste AKV, beskrywingspunt 23, gaan dr DJC van Wyk (jr) vir die Kerk vra om die Kommissie se optrede in die hantering van konflik en litigasie die afgelope 3 jaar goed te keur.  Die aanspraak word gemaak dat die Kommissie altyd op Bybelse, Christelike en morele hoëgrond beweeg het.
 
Ons neem vrymoedigheid om die verweerskrif van ds. Gawie Wolmarans op 'n klag wat die Kommissie teen hom ingedien het, met sy toestemming aan u beskikbaar te stel.  Nadat u dit deurgelees het, kan u, u eie gevolgtrekkings maak.
 
Alhoewel dit van die begin af duidelik was dat hierdie klag nie aan die vereistes deur die kerkorde gestel voldoen nie, sou dit op die 4 Junie 2013 tydens die verhoor geargumenteer word.  Dit was ook duidelik dat die Kommissie ds. Wolmarans onregmatiglik, deur misbruik van mag, geskors het.  Daar is nooit aangedui watter “aanstootlike sonde” ds. Wolmarans sou pleeg wat, volgens die sekretaris van die Kommissie, op dieselfde vlak sou wees as 'n predikant wat dronk op die preekstoel klim.
 
Na ontvangs van die klag het ds. Wolmarans die sekretaris van die Kommissie van die AKV versoek om o.m. die name van die lede van die Kuratorium en die Sekundus-kommissie aan hom beskikbaar te stel, wat hy geweier het.  Twee dae voor die verhoor het ds. Wolmarans verneem dat, met die uitsondering van een predikant, vier van die vyf predikantslede op die verhoorkommissie predikante is wat openlik vyandiggesind is teenoor die saak waarvoor hy staan, en waarvan twee in die verweer geïmpliseer word.  Omdat dit op 'n onbillike verhoor sou neerkom, het hy die voorsitter versoek dat hierdie lede nie sitting sou neem nie.  Dit is geweier.  Met die kerkorde wat bepaal dat appel na die Kommissie, wat in hierdie geval ook die klaer is, verwys moet word, was dit duidelik dat die saak uiteindelik teen hoë koste na die Hooggeregshof geneem sou moes word.  Dit het ds. Wolmarans genoop om sy bedanking in te dien.
 
Ironies dat die geldige klag wat die Ringskommissie van Soutpansberg ingedien het teen 'n predikant wat meineed gepleeg het en geen berou toon daaroor nie, summier van die hand gewys is.
Hierdie is een voorbeeld van gewetenlose heksejag waarmee die Kommissie, die Litigasie-komitee en Raad vir Regsadvies besig is.  U sal besef dat u voorbidding vir die kerkleiding ononderbroke nodig is. 
 
U is welkom om hierdie dokument verder binne die NHKA te versprei.
 
 
steedsHervormde groete
 
 
Administrasie
steedsHervormers.