Wie is jy ?

Lees : Johannes 1 : 19 - 28

Wie is jy ?

Gedurende die geweldige trauma en ontnugtering an die Tweede Wêreldoorlog het iemand in ʼn bomskuiling in Duitsland die volgende woorde uitgekerf :

 

Ek is, ek weet nie wie nie.

Ek kom, ek weet nie waarvandaan nie.

Ek gaan, ek weet nie waarheen nie.

Vra nie hoekom ek nie bly is nie !

 

Dalk dieselfde vrae wat in ons land en kerk se gemoed na vore kom : Wie is ek ? Waar kom ek vandaan ? Waar gaan ek heen ?

 

Wanneer die Jode by monde van hulle priesters hierdie vrae aan Johannes die Doper stel dan beantwoord hy dit baie eenvoudig: Hy is nie God nie, nie die Christus nie, nie Elia die tweede nie, nie die Profeet nie. Nee, hy is dienskneg van Jesus, om mense met woord en daad voor te berei vir sy koms.

 

Niks van ʼn hoë dink van homself, maar sy ek, sy identiteit, sy wese is doodgewoon om die Here te dien.

 

Jy kan eers werklik uitvind wie jy is, as jy weet wie God is en nie te veel van jouself dink nie. As jy weet wie God is, weet jy dat jy ʼn opdrag en roeping het om met jou woorde en dade en jou lewe mense na ons Verlosser, Jesus Christus te lei. As die mense jou geloof en jou blydskap sien en ervaar, moet hulle ook begerig wees om die bron daarvan te leer ken. Dit gee aan ons die antwoord op die vraag : wat is die sin van alles ? Dat ek God ken, in hom verlossing het en daarom weet wie ek is en waarheen ek op pad is.