Wees verheug !

Lees Prediker 11 : 7 - 10

Anders as die bekende spreekwoord sê die Prediker eintlik hier dat elke silwer wolk 'n donker rand het ! Net as jy dink dit gaan goed dan kom die goeie ook tot 'n einde. Daarom is sy gevolgtrekking :

  • Geniet daarom die goeie wat die lewe bied want dit is nie blywend nie!
  •  
  • Wees dankbaar as jy oud word want dit is nie eintlik in jou mag om dit te bepaal nie!


Maar waar lê die mens se blywende vreugde dan?

Net soos die Prediker voel ons ook die spanning van hierdie lewe aan. Die lewe bied ongelooflike goeie dinge. Dit is in die lewe waar ons vervul word,lief het, geluk vind, lag en vreugdevol is. Soms kan ons meewerk daartoe en ander kere is dit buite ons direkte beheer.  Self die lewensfase van ons menswees wat die potensiaal het om die meeste goeie ding na vore te bring, jou jonkwees, kom ook een of ander tyd tot 'n einde.

Maar in die lig van hierdie spanning word die blye boodskap van Jesus Christus nog duideliker. Want God bring blywende vreugde wanneer hy ons van hierdie doodsbestaan red. Die nuwe hoop op die ewige lewe bepaal nou ons blywende vreugde. God bevestig dat hy teenwoordig is, ook in hierdie lewe.

Nou word die goeie van die lewe nog belangriker. Dit raak daardie kosbare geleenthede wat God vir ons gee om voluit te leef. Dit word dankbare oomblikke wat al iets laat blyk van die ewige vreugde wat vir ons eendag ook by God wag.

Ja die silwer wolk het dalk 'n donker rand. Maar meer as dit! Die Here kom weer op die wolke om ons vreugde volkome te maak.

Amen