Waaruit behoort ʼn ware en opregte Christelike lewe te bestaan?

Lees : Kolossense 1 : 3 -8

“ Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is.”

ʼn Gelowige se lewe behoort uit geloof, liefde en hoop te bestaan. En nou gaan dit nie hier oor enige geloof nie.

Dit gaan hier oor geloof in dié God wat hom in Jesus Christus bekend gemaak het aan die wêreld. Geloof in Jesus Christus as die opgestane Here wat my sonde en my skuld vir my gedra het.

Dit is ware geloof en dit is die enigste geloof wat redding en heil vir ons bring. In hierdie tyd met al sy vals godsdienste en vals gelowe is dit goed om dit weer opnuut te hoor.: Geloof in Jesus Christus bring heil en verlossing vir elkeen wat glo. Om dan Christelik te lewe beteken dat dit die inhoud van my geloof sal wees.

 

En as dit my geloof is dan word die liefde waarvan hier gepraat word ook duidelik. Dit word liefde vir God en liefde vir medegelowiges. Die liefde wat die kenmerke dra van bereid wees om op te offer, in diens te staan en gerig te wees op God en my naaste. Dan kan ek nie meer net vir myself lewe nie maar dan ook vir God en my naaste.

 

En ek kan glo en ek kan in liefde dien omdat ek hoop het. Nie ʼn vae hoop nie maar ʼn sekere hoop op die ewige lewe wat ek uit genade aan deel het.

My verlede en my hede en my toekoms word omvat deur geloof, liefde en hoop. Jesus Christus het vir my gesterf sodat ek nou, elke dag kan liefhê want ek is op pad na die ewige lewe.