Lidmaatskap van die kerk beteken ook : dat ek deel is van sy liggaam .

1 Korint. 12

Die kerk is nie maar net ‘n klomp enkelinge wat saamgegooi is en niks met mekaar te doen het nie . Trouens , dit is opmerklik dat al die beelde wat in die Bybel vir kerk gebruik word , dit beklemtoon dat die lidmate aan mekaar verbonde is .Een van die mees algemene beelde is die liggaam.

So lees ‘n mens in 1 Korint. 12 dat die onderskeie lede , t.s.v. hulle soms uiteenlopende funksies , ‘n hegte eenheid vorm . Daarom kan die oog nie vir die hand sê : Ek het jou nie nodig nie . Die kop kan ook nie sonder die voete klaarkom nie . Die ledemate is dus nie net aan mekaar verbonde nie , maar is ook van mekaar afhanklik .

Hiermee beklemtoon die Woord dat die kerk van die Here soos ‘n lewende liggaam is . Die lidmate is nie net aan mekaar verbonde omdat hulle onder een , Hoof , Jesus Christus ,verenig is en deur dieselfde Gees deurdronge is nie , maar hulle kan ook nie sonder mekaar klaarkom nie . Hulle het mekaar nodig . Hulle vul mekaar aan . Hulle help mekaar , staan mekaar by , steun op mekaar .

Lidmate staan ook nie ongevoelig teenoor mekaar nie . My medegelowige se leed , lyding , droefheid, terugslae en teleurstellings gaan nie maar net by my verby nie . Dit raak ook my . Sy leed is ook my leed . Sy verlies is ook my verlies . Sy vreugde is ook myne en ek is saam met hom bly as hy opgewek en bly is .

In hierdie tyd van ‘n onpersoonlike massagemeenskap gebeur dit al hoe meer dat lidmate mekaar nie ken nie . Hulle is in dieselfde gemeente , sit langs mekaar in die kerkbanke , maar het niks met mekaar te doen en weet bitter min van mekaar af . Onbekend maak onbemind , wat nog deel in mekaar se vreugde en leed .

As lidmaat van die kerk mag ek nie ‘n enkeling wees wat ‘n lewe in-myself vir-myself lei nie . Nee , ek is deel van ‘n groep wat bely dat hulle ‘n gemeenskap van heiliges is .