Hoekom behoort mense aan die kerk ?

1 Petrus. 2:1-10

Hoekom behoort mense aan die kerk ?

Ek wil graag vir julle 4 redes opnoem .

Omdat hulle dit sien as deel van die tradisie . Pa en ma , oupa en ouma , oupa-grootjie en ouma-grootjie het aan die kerk behoort en daarom moet ek ook seker aan die kerk behoort .Ek moet sê , so was dit vir baie jare .

Omdat daar ‘n soort sosiale status aan kerklidmaatskap verbonde is . Dit is nog beter as jy ‘n kerkraadslid kan wees-dan het jy darem ‘n sekere sosiale aansien in die gemeenskap . Weereens moet ek sê , so was dit vir baie jare .

 Derdens is daar diegene vir wie dit gerieflik is om aan die kerk te behoort:DDT-lidmate . Ek kan my kinders in die kerk laat doop en daaruit laat trou en uiteindelik kan ek my kop in vrede neerlê , wetende ek sal uit die kerk begrawe word . Vir baie mense is dit die hoofrede hoekom hulle aan die kerk behoort of so kom dit voor .

Maar daar is ook ‘n vierde groep mense . Vir hulle beteken kerklidmaatskap wat dit behoort te beteken . Dit is nie so dat hulle die tradisie geheel en al misken nie . Hulle is die Here dankbaar vir voorgeslagte wat hulle in die Woord en verbondsleer opgevoed het . Ook is dit nie dat hulle die status nie raaksien nie . Dit gaan egter in die eerste instansie nie om die status wat lidmaatskap vir hulle in die wêreld verleen nie , want status beteken vir hulle iets anders . Omdat hulle glo en bely dat hulle die Here Jesus Christus aangeneem het , het hulle wel status as kinders van God . Hierdie groep is ook nie blind vir die “ voordele “ wat kerklidmaatskap inhou nie , maar dit gaan vir hulle om ander “ voordele “- die voordele wat die Koning van die kerk Jesus Christus , vir hulle verdien het .

Hoekom behoort jy aan die kerk ?