Hoekom behoort jy aan die kerk ?

Negende artikel van ons geloofsbelydenis: “ Ek glo aan ‘n heilige , algemene , Christelike kerk “ .

Hoekom behoort jy aan die kerk ?

Op hierdie vraag gee ons geloofsbelydenis , o.g.v. Gods Woord , ‘n baie duidelike antwoord . As ek saam met die kerk bely : “ Ek glo aan die heilige , algemene , Christelike kerk , die gemeenskap van die heiliges “ , dan sê ek tegelyk wat lidmaatskap vir my beteken en hoekom ek aan die kerk behoort.

Lidmaatskap van die kerk beteken : dat  ek aan Jesus Christus behoort .

Dit gaan nie maar net om lidmaatskap van die kerk nie .

Nee , my enigste troos is om te weet dat ek aan Jesus Christus behoort ! Om te weet dat  ek met liggaam en siel ( m.a.w. volkome ) in lewe en in sterwe ( m.a.w. vir altyd ) nie meer aan myself behoort nie , maar aan Jesus Christus toebehoort . Die troos moet die allesoortreffende sekerheid van my lewe wees . Dit moet my vrede in die gemoed gee . Ek moet my ganse lewe daaraan kan veranker en my toekoms daarop bou .

Die kerk bestaan uit mense wat kragtens God se verkiesende liefde en genade losgekoop is uit hulle sondige aardse bestaan . Trouens , dit is wat die woord kerk o.a. ook beteken , nl. “ die Here s’n “ of “ hulle wat aan die Here behoort “ .

As jy kerk sê , dan praat jy van God se eiendom , God se kinders , sy volk , en as jy sê : “ Ek behoort aan die kerk “ , dan sê jy daarmee ook dat jy deel is van die vergadering , gemeenskap of huisgesin wat aan die Here behoort .

 Die belangrikste betekenis van kerklidmaatskap is dus nie in die eerste plek of jy aan die kerk behoort nie , maar of jy aan Jesus Christus behoort .

Kom ons vra vir mekaar : “ Behoort jy aan Jesus Christus ? “ .