Onderhandeling in die kerk

Ds Freek van der Merwe(emiritus) het na sy bedanking as predikant van die NHKA die volgende stuk opgestel oor wat hy dink selfs op hierdie stadium `n grondslag kan vorm om `n gesprek tussen die NHKA en die Hervormde Kerke te fasiliteer.

Dit hoef nie noodwendig tot eenwording te lei nie maar wel die onsmaaklike, afbrekende en vrugtelose magsgrepe wat tot nou toe uit gehaal is, vervang. Die gesprek moet aan die gang bly maar nie rondom blamering en dreigemente nie. Sowel in Vaalwater as by die Bond vergadering het ek gevra dat ons ons weerhou van reaktiewe gesprekke en optrede. Hierby aangeheg dan 9 Punte wat ek dink `n voorlopige gesprek basis kan vorm. -  Freek van der Merwe "

Onderhandeling

Onderhandeling in die kerk is nie `n alledaagse gebeurtenis nie. Dit word aanvaar dat dit meer op die terrein van die sakewêreld of in die politiek ter sprake kom. Tog het daar onverwags `n situasie in die kerk ontstaan waar daar wel onderhandel is, maar sonder enige sukses. Natuurlik kan die mislukking toegeskryf word aan "hulle optrede" en die" hulle" sal afhang aan watter kant van die draad die beoordelaar staan. Indien daar aanvaar word dat daar foute begaan is, dan behoort die benadering in die konteks van die kerk te wees dat foute nie bestem is vir veroordeling (ketter, sekte, dwaling) en straf (weggaan, afsny) nie maar vir regstelling van die "foute" en leer uit die foute.
 
Dit te meer omdat die kerk se situasie na alle waarskynlikheid so aan die verander is, dat onderhandeling nie net deur middel van howe sal kan geskied nie maar dat die kerk instaat moet wees om self te kan onderhandel. Dit is ook nie `n saak van die kerk met die lidmate nie maar aangesien die lidmate deel van die kerk is, is dit die kerk met die kerk. Dit is die liggaam wat met die liggaam moet onderhandel hoe die ledemate van die liggaam effektief sal kan funksioneer sonder dat daar `n disfunksionele amputasie of oorplanting moet plaasvind.
Hierdie voorlegging is nie volledig nie maar wil 9 sake aanraak wat ek dink beide "partye" goed moet oorweeg en met aanvulling as `n bespreking stuk vir toekomstige skakeling kan dien.
 
Ek het nie die toepassing hiervan in ons situasie na vore gebring nie omdat dit myns insiens., vanselfsprekend is en elkeen dalk `n unieke insig hier oor het.